Nuus 17:00
BULLETIN 25 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke verwelkom die ondertekening van die Verkiesingsgedragskode
# Die DENOSA-president is verkies as vise-president van Statebondfederasie vir Verpleegkundiges en Vroedvroue
# En, rugby: die Stormers en Connacht skop die nuwe VRK-seisoen af in Galway
# Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke verwelkom politieke partye en onafhanklike kandidate se ondertekening van die Verkiesingsgedragskode voor die plaaslikeregeringsverkiesing in November. Volgens die Verkiesingskommissie verseker die gedragskode dat al 136-duisend-790 kandidate gelyke geleentheid het om hul veldtog te voer en hul boodskap sonder vrees of onregverdige verdraaiing te verkondig. Die SARK vra alle Suid-Afrikaners om die kode ernstig op te neem sodat wanneer die uitslag aangekondig word, dit die ware stem van die mense weerspieël.
# Die verpleegvakbond DENOSA het sy president, Simon Hlungwani, gelukgewens nadat hy as vise-president van die Statebond-federasie vir Verpleegkundiges en Vroedvroue verkies is. Hlungwani is tydens die federasie se 27ste tweejaarlikse vergadering in Nieu-Delhi, Indië, verkies. DENOSA-woordvoerder, Sibongiseni Delihlazo, sê die federasie beïnvloed gesondheidsbeleid en ontwikkel verpleeg- en vroedvrou-vermoëns in sy 53 Statebond-lidlande:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê City Power se besluit om elektrisiteitsinkomste af te sonder, is ‘n stap in die rigting van ‘n verbeterde elektrisiteitsnetwerk vir Johannesburg. Inwoners moet egter sien dat die geld wel aangewend word om die kragnetwerk te verbeter. Vanaf die eerste van volgende maand sal 70-persent van die elektrisiteitsinkomste wat deur die stad ingesamel word, binne 48-uur aan City Power oorbetaal word, terwyl die stad 30-persent behou. Julius Kleynhans van OUTA waarsku dat die afsondering van fondse nie korrupsie, verkwisting, elektrisiteitsverliese en swak finansiële beheermaatreëls sal aanspreek nie.
# Die akteurs Susan Sarandon en Hannah Einbinder was onder meer as 100 mense wat gister deur die polisie in New York aangehou is tydens ‘n betoging buite die Verenigde Nasies. Die betoging, wat deur die Jewish Voice for Peace, gereël is,het beswaar gemaak teen die besoek van die Israeliese eerste minister Benjamin Netanyahu en eis ‘n einde aan die oorlog in Gaza. Betogers het ‘n kruising naby die VN-hoofkwartier versper, waarna die polisie die skare uiteen moes jaag. Die polisie het toe betogers wat oorgebly het, in hegtenis geneem.
# Rugby: Die nuwe Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen begin vanaand in Ierland wanneer die Stormers Connacht in Galway besoek. Die wedstryd begin 8.45. Die ander drie Suid-Afrikaanse spanne is môre in aksie. Die Leeus verwelkom die verdedigende kampioen en Ierse bobaas-span, Leinster, 2.30 op Ellispark in Johannesburg, en die Haaie speel vier-uur tuis teen die Walliese span Ospreys op Kingspark in Durban. Die Bulle begin hul veldtog 6.30 die aand teen Zebre in Parma, Italië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-934-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-279-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 103-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….