Nuus 17:00
BULLETIN 7 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ondersteuners van die MK-party probeer die presidensiële imbizo in Mpumalanga ontwrig
# Die Wes-Kaap bewillig 192-miljard-rand vir verskeie noodsaaklike dienste
# En, sokker: Man City maak gereed om in Liverpool te veg vir die Premierliga
# President Cyril Ramaphosa waarsku enigeen wat verkiesingsgeweld aanhits sal in hegtenis geneem word. Dit volg na dreigemente van bloedvergieting deur die uMkhonto we Sizwe-party in KwaZulu-Natal as hulle uitgesluit sou word van die stemmery op 29 Mei. Ondersteukners van die party het vroeër vandag probeer om die opening van die presidensiële imbizo in Emalahleni, Mpumalanga, te ontwrig voor die aankoms van die president, met die sing van uitlokkende slagspreuke. Ramaphosa sê diegene wat geweld aanhits, is vyande van die demokrasie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger, het die behoeftes van die provinsie se inwoners vooropgestel en 192-miljard-rand toegeken om kwesbare gemeenskappe te ondersteun. Dit sluit onder meer primêre gesondheidsorg, geestesgesondheid, leerdervervoer en skoolvoedingsprogramme in. Die begroting fokus ook op infrastruktuur-belegging, met meer as 32-miljard-rand wat vir lewensbelangrike infrastruktuur oor die 2024 Mediumtermyn-bestedingsraamwerk toegewys is. Meer as 45-miljard-rand is ook bewillig om die ekonomie te laat groei en meer werksgeleenthede regoor die provinsie moontlik te maak.
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, staan vandag voor een van die belangrikste oomblikke van sy politieke loopbaan met ‘n staatsrede waartydens hy skeptiese kiesers moet oortuig dat hy Donald Trump in November se verkiesing kan klop. Die jaarlikse toespraak is gewoonlik hoofsaaklik ‘n seremoniële gebeurtenis, maar vanjaar moet die 81-jarige Biden toenemende twyfel besweer oor sy ouderdom, die Amerikaanse ekonomie en die oorloë in Gaza en Oekraïne. Amerikaners sal nie net wil sien wát die oudste president in die geskiedenis sê nie, maar ook hóé hy dit sê.
# Sokker: Manchester City is hierdie seisoen weer in die wedloop vir verskeie trofeë. Die Kampioeneliga-houers het Copenhagen opsy gestoot om die kwarteindronde vir die sewende agtereenvolgende seisoen te haal. Hul fokus verskuif nou vinnig na die Premierliga, met alle oë op Anfield Sondag wanneer Liverpool die gasheer is vir City. Dit is ‘n stryd tussen die top twee op die punteleer en City se doelskieter, Erling Haaland, sê hulle sal op hul beste moet wees:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-741-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-158-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-65-sent per vat.
# En, die gedrukte media het sy inkomsteverliese gedeeltelik aan Google toegeskryf. Die bedryf meen Google se model het sy volhoubaarheid oor die jare bedreig. Mail and Guardian het tydens mondelinge voorleggings op dag drie van die Mededingingskommissie se Media- en Digitale Platforms-markondersoek gesê sy aanlyn digitale voetspoor word bedreig, en dit benadeel sy broodnodige advertensie-inkomste. Die publikasie se hoof-uitvoerende beampte, Thembisa Fakude, benadruk dat dit die uitdaging is waarmee álle tradisionele nuusmedia-platforms te kampe het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….