Nuus 17:00
BULLETIN 5 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Numsa veroordeel die geheimhouding rondom minister Gordhan se ooreenkoms tussen SAL en Takatso
# Menseregtegroepe sê Iran het verlede jaar 834 mense tereggestel
# En, tennis: ‘n Ongekeurde Nadal word steeds bestempel as ‘n bedreiging in die Indian Wells-ope
# Die Metaalwerkersvakbond Numsa vra die Parlement se portefeuljekomitee oor Openbare Ondernemings om dokumente wat die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, oor die omstrede verkoop van 51-persent va die Suid-Afrikaanse Lugdiens aan die Takatso-konsortium ingedien het, te openbaar en te deel. Daar word gevra vir eerlikheid en aanspreeklikheid wanneer die komitee môre vergader. Die vakbond kritiseer Gordhan se poging om nie-openbaarmakingsooreenkomste en geheimhouding rondom die transaksie af te dwing, en noem dit verregaande. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, eis blootlegging van alle toepaslike dokumente:
# Die Gautengse LUR vir Finansies, Jacob Mamabolo, het ‘n vaste verbintenis verklaar om die e-tol-kwessie teen die einde van hierdie maand op te los. Dit volg op ‘n beleidsverklaring in 2022, toe die provinsie ingestem het om 30-persent by te dra tot die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap se skuld, terwyl die nasionale regering die oorblywende 70-persent sal dek. Mamabolo het in sy provinsiale begrotingstoespraak gesê tolhekligte en kameras sal bly vir wetstoepassing, en padgebruikers kan voortgaan om e-toestelle by ander tolplazas te gebruik:
# First National Bank se ontleder, Ester Ochse, het verbruikers gemaan om hulle uitgawes te besnoei te midde van hoër brandstofpryse. Die bank vrees dat die druk op begrotings verder sal vererger met verhoogde brandstofuitgawes, wat voertuig- en openbare vervoerkoste ook negatief sal raak. Sy maan dit sal waarskynlik lei tot hoër produk-pryse, druk op verbruikersinflasie en op koopkrag. In weerwil van die bykomende uitdagings, verwag FNB dat die rand ná die verkiesing sal versterk, en dat laer inflasie, en laer rentekoerse kan volg. Ochse sê dit kan moontlik besteebare inkomste in die tweede helfte van die jaar bevorder:
# Menseregtegroepe sê Iran het verlede jaar minstens 834 mense tereggestel, die hoogste getal sedert 2015, te midde van ‘n toename in die doodstraf in dié Islamitiese republiek. Die aantal galg-teregstellings het met sowat 43-persent gestyg teenoor 2022. Dit was slegs die tweede keer in twee dekades dat meer as 800 teregstellings in ‘n jaar aangeteken is. Die vorige keer was 972 teregstellings in 2015.
# Tennis: Die voormalige wêreld nommer een, Rafael Nadal, is ongekeur vir die Indian Wells-toernooi wat môre in die VSA begin, maar word steeds as ‘n bedreiging vir die sterker spelers beskou. Die Spanjaard het tot 652ste op die wêreldranglys gedaal ná ‘n jaar wat meestal deur beserings ontwrig is. Hy het egter tekens van sy legandariese talent getoon in Sondag se vertoonwedstryd in Las Vegas teen sy landgenoot, Carlos Alcaraz, wat tweede gekeur is vir Indian Wells. Novak Djokovic is die topgekeurde, met Jannik Sinner derde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-689-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-137-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….