Nuus 17:00
BULLETIN 3 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK vra kiesers om te registreer voor Vrydag se afkondiging van die verkiesing
# ‘n Studie waarsku antibiotika-weerstandigheid word in waterstelsels versprei
# En, Iran sê daar is geen gesprekke met Amerika nie, nadat Donald Trump aanvalle aflas
# Suid-Afrikaners is gevra om as kiesers te registreer of hul kiesersbesonderhede by te werk voor die kiesersregistrasies Vrydag sluit. Vrydag is ook die dag waarop die plaaslike regeringsverkiesing amptelik afgekondig word. Die uitvoerende hoof van die OVK, Sy Mamabolo, sê kiesers moet geregistreer wees in die stemdistrik waar hulle woon om 4 November in die plaaslike regeringsverkiesing te kan stem. Mamabolo moedig stemgeregtigde kiesers aan om voor die sperdatum gebruik te maak van die OVK se aanlyn- en WhatsApp-platforms:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika fokus op die ontwikkeling van ‘n betroubare kragstelsel wat aan die land se groeiende vraag na elektrisiteit kan voldoen. Ramokgopa lei ‘n afvaardiging na China om samewerking op die gebied van energiebeleggings en infrastruktuurontwikkeling te versterk. Die besoek is om beleggings in elektrisiteitsopwekking, die uitbreiding van die kragnetwerk en hernubare energie te lok. Hy sê die fokus is nou om van beplanning na uitvoering te beweeg, en om strategiese vennootskappe te verdiep om energiesekerheid te versterk:
# ‘n Studie het onthul dat antibiotika-weerstandige bakterieë en weerstandsgene steeds in Suid-Afrika se waterstelsels voorkom, ondanks watersuiwering. Navorsers sê behandelde afvalwater kan steeds genetiese materiaal bevat wat weerstand teen kritieke antibiotika dra, wat dit toelaat om deur riviere te versprei en moontlik weer in gemeenskappe te beland. Die studie vra verbeterde monitering, gevorderde watersuiwerings-tegnologieë en sterker samewerking tussen gesondheids- en waterowerhede. Navorsers vra ook die publiek om medisyne verantwoordelik weg te gooi en veilige watergebruik te beoefen om die risiko te verminder.
# Iran verwerp president Donald Trump se bewering oor onderhandelings tussen Washington en Teheran. Trump het gesê gesprekke sou begin nadat hy beplande militêre aanvalle afgelas het en verkies het om ‘n ooreenkoms eerder as ‘n oorlog na te streef. Iran se Ministerie van Buitelandse Sake hou egter vol daar is geen vergaderings geskeduleer nie en geen onderhandelings vind tans plaas nie. Die enigste besprekings is met Oman oor die bestuur van die Seestraat van Hormoes. Die teenstrydige verklarings volg na maande van toenemende spanning, herhaalde Amerikaanse militêre dreigemente en vergeldingsoptrede deur Iran. Oliepryse het gedaal nadat Trump weer teen militêre optrede besluit het.
# Tennis: Die DC Ope-eindstyd tussen die Amerikaner Taylor Fritz en Rafael Jodar van Spanje sal nou vanaand plaasvind na dit weens reën in Washington uitgestel moes word. Die wedstryd sal nie vroeër as 19:00 Suid-Afrikaanse tyd begin nie, na die voltooiing van die vroue-eindstyd tussen die Amerikaner Jessica Pegula en Alexandra Eala van die Filippyne. Die derde gekeurde Fritz hoop op sy eerste ATP-titel van die seisoen, terwyl die 19-jarige Jodar probeer om sy tweede ATP-oorwinning te behaal nadat hy in Marrakesh gewen het. ‘n Oorwinning sal Jodar sy hoogste plek ooit op die wêreldranglys besorg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-620-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-47-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 86-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….