Nuus 17:00
BULLETIN 20 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Transnet sê dit kan tot 15 weke neem om die agterstand in die Durbanse hawe op te klaar
# Organisasie vra vir ‘n vermindering van oorbesetting in tronke
# En, krieket: Australië se twee eindstrydhelde moes nie eens in die Wêreldbeker gespeel het nie
# Transnet reken dit kan sewe tot 15-weke neem om die vrag af te laai van die 63 vaartuie wat buite die Durbanse hawe voor anker lê. Dit veroorsaak vertragings wat die Kersstormloop vir invoerders kan beïnvloed. Daar word tans onderhandel om die hantering van vrag by die Durbanse houerterminale 1 en 2 te bespoedig. Die planne sluit in om die vermoë met houerhantering te vergroot en aandag te gee aan uitdagings op die korttermyn. Die agterstand raak streekshandel, met ‘n onlangse uitval by die Lebombo-grenspos en verhoogde gebruik van alternatiewe hawens. Transnet onderhandel met skeepsrederye vir die vrystelling van fooie vir toeslag weens opeenhoping.
# Die Suid-Afrikaanse Gevangenes-organisasie vir Menseregte het kommer uitgespreek oor die aanhoudende uitdaging rondom oorbesetting in tronke. Die huidige bevolking in Suid-Afrika se tronke is meer as 212-duisend, en die stigter van die organisasie, Golden Miles Bhudu, spreek kommer uit oor die uitwerking op gevangenes se gesondheid en sekerheid. Bhudu skryf hierdie kwessies toe aan voortdurende personeeltekorte in tronke, en beklemtoon die oorvol toestande is onmenslik en skend die gevangenes se regte. Hy sê die situasie dui op ‘n dringende behoefte aan omvattende hervormings in die gevangenisstelsel:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, sê armoede en beperkte toegang tot onderwys in landelike boerderygemeenskappe, genoodsaak sommige kinders om te werk. Daar is ʼn beduidende getal minderjariges wat werk, veral in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Nxesi het na hierdie kwelpunt verwys tydens die bekendstelling van die Voorkoming en Uitskakeling van Kinderarbeid in Sandton, en benadruk daar is ‘n behoefte om hierdie uitdagings aan te pak en kinderarbeid uit te skakel:
# Krieket: Daar is glad nie verwag Australië se twee helde in die Wêreldbeker-eindstryd teen Indië sou in die toernooi speel nie. Travis Head en Marnus Labuschagne se vennootskap van 192 lopies het die oorwinning verseël en bygedra dat Australië die gasheer, Indië, met ses paaltjies troef en die trofee vir ʼn rekord sesde keer inpalm. Head het sy hand gebreek twee weke voor die aanvang van die toernooi terwyl Labuschagne eers speelkans gekry het toe spanmaats beseer is. Head was die speler van die wedstryd vir sy 137 lopies terwyl Labuschagne ʼn onoorwonne 58 bygedra het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 20-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-195-dollar-36-sent. Die prys van goud is een-duisend-971-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-25-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nuwe kunsmatige intelligensie mediese behandeling ondergaan middel-fase proewe in die Verenigde State en China. Insilico-terapie verteenwoordig die wêreld se eerste volledige K-I-gegronde voor-kliniese middel wat die ongeneeslike longsiekte, idiopatiese pulmonêre fibrose teiken. Uitslae van hierdie algoritme-middel word in 2025 verwag. Navorsers verbonde aan Deep Pharma Intelligence in Brittanje beweer die sukses hiervan sal die weg kan baan vir nuwe en meer koste-doeltreffende K-I-terapieë, wat lewens kan red en koste van gesondheidstelsels verminder. Daar is egter nog geen bewyse hierdie tegnologie kan lewensreddende behandeling teweegbring nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….