Nuus 17:00
BULLETIN 18 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EMPD-adjunkhoof, Julius Mkhwanazi word afgedank te midde van bewerings van moord en korrupsie
# Die Staatsdienskommissie kritiseer Suid-Afrika se keuringsproses vir openbare amptenare
# En, drie sterf en agt is beseer in ‘n skietvoorval in ‘n Filippynse skool
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, is afgedank. Hy is in November verlede jaar geskors en word tans aangehou nadat borgtog aan hom geweier is in ‘n moordsaak wat verband hou met die dood van die sakeman Emmanuel Mbense. Mkhwanazi staan ook tereg op ander aanklagte van korrupsie, roof en bedrog. Intussen is die Killarney edelstene-saak tot Oktober uitgestel om die beskuldigdes se regsverteenwoordigers meer tyd te gee om die polisiedosier te bestudeer.
# Die voorsitter van die Staatsdienskommissie, professor Somadoda Fikeni, sê keuringsprosesse vir staatsamptenare in Suid-Afrika word dikwels nie ernstig opgeneem nie en is onderstandaard teenoor wat in ander lande toegepas word. Fikeni het in sy getuienis voor die Madlanga-kommissie bevraagteken waarom amptenare met hul aanstellings kan begin voordat die siftingsproses afgehandel is. Hy sê vertragings kan daartoe lei dat klaring eers kort voor die einde van ‘n amptenaar se termyn verkry word, wat die doel van die proses tot niet maak. Hy het ook kritiek uitgespreek oor kort oriënteringsprogramme:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty sê hy ondersteun die vakverbond COSATU se eendrag en die groter samehorigheid van die hele progressiewe vakbondbeweging. Dit volg nadat COSATU se 15de nasionale kongres vroeër die week oor ‘n gekibbel oor leierskap en afgevaardigdes se geloofsbriewe misluk het. Alex Mashilo sê hy respekteer COSATU se onafhanklikheid as organisasie en sien uit dat die vakverbond sy interne probleme oplos en die kongres amptelik konstitueer wanneer dit hervat:
# Drie mense, insluitend ‘n 16-jarige leerder, is dood en agt beseer in ‘n skietvoorval in ‘n hoërskool in die suide van die Filippyne. Twee van die slagoffers was 14-jarige leerders en vier van die beseerdes is in ‘n bedenklike toestand. Die aanval het in die Banga National High School in Suid-Cotabato plaasgevind, waar klasse intussen opgeskort is. Owerhede sê die verdagte, ‘n tiener, is ook dood. Dit is die derde noodlottige skole-skietvoorval in die Filippyne sedert Junie, wat opnuut kommer laat opvlam oor veiligheid by skole.
# Tennis: Die Amerikaner Brandon Nakashima maak vanjaar sy Laverbeker-buiging as plaasvervanger vir sy landgenoot, Ben Shelton, wat onttrek het. Die 25-jarige het ‘n goeie seisoen beleef waarin hy die eerste keer tot die wêreld se top-20 deurgedring het. Nakashima sluit aan by sy mede-Amerikaners Taylor Fritz en Learner Tien, Alex de Minaur van Australië, Alexander Bublik van Kazakstan en die Argentyn Francisco Cerundolo in kaptein Andre Agassi se Wêreldspan. Die kompetisie vind volgende naweek in die O2-arena in Londen plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-974-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-370-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 104-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….