Nuus 17:00
BULLETIN 17 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula erken sy het versuim om ’n ‘geskenkte pruik’ te verklaar
# AfriForum verwelkom die Amerikaanse stappe teen politici oor beweerde regteskendings
# En, rugby: drie terugkerende Bokke word ingesluit in die Stormers se groep vir die nuwe seisoen
# Die voormalige minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, hou vol ’n pruik wat in WhatsApp-gesprekke met die militêre kontrakteur Nombasa Ntsondwa-Ndlovu bespreek is, was werklik ‘n pruik en nie ’n kode-woord vir geld nie. Sy is in die Hooggeregshof in Pretoria gevra hoekom sy herhaaldelik daarna verwys het. Mapisa-Nqakula, wat deur ’n tolk getuig, erken sy het versuim om die geskenk te verklaar, maar ontken dat sy enige onregmatige voordeel van Ntsondwa-Ndlovu ontvang het:
# AfriForum is tevrede met Amerika se jongste stappe teen Suid-Afrika, want dit sal nie gewone burgers benadeel nie, maar slegs politici en ander wat beskuldig word van ernstige menseregteskendings teen Afrikaners en ander minderhede. Dit sluit in oproepe tot geweld en grondonteiening sonder vergoeding. Woordvoerder Kallie Kriel sê die regering het hom doof gehou vir AfriForum en Solidariteit se voorstelle om sake op te los en moet nou aanspreeklikheid aanvaar:
# Die finansiëledienstegroep Momentum het sy teiken van sewe-miljard-rand in wesensverdienste ‘n jaar vroeër as beplan bereik. Die groep het vir die jaar tot Junie ‘n verdienste van 7,06-miljard-rand aangeteken, 13-persent hoër as die vorige boekjaar. Die uitvoerende hoof, Jeanette Marais, sê elke sake-eenheid het vir die eerste keer ‘n wins gelewer, met vyf afdelings wat elk meer as een-miljard-rand bygedra het. Sy sê verbeterde bedryfsprestasie, eerder as marktoestande, het die sterk uitslae aangevuur. Die groep het die dividend vir die volle jaar met 31-persent tot 230-sent per aandeel verhoog.
# Rugby: Die Springbokke Cheslin Kolbe, Siya Kolisi en Wilco Louw is by die Stormers se groep vir die 2026/27-seisoen ingesluit ná hul terugkeer van ander spanne. Hoofafrigter John Dobson het ‘n groep van 56 aangekondig as deel van “Projek 2029”, wanneer hulle beoog om die Kampioenebeker te wen. Die senter Ruhan Nel is kaptein van die groep, wat 15 Bokke insluit asook Oli Kebble, wat vir Skotland gespeel het, en Gary Porter, wat Zimbabwe verteenwoordig het. Die Stormers skop hul Verenigde Rugbykampioenskapsveldtog volgende Vrydag in Ierland teen Connacht af.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-669-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-373-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 103-dollar-16-sent per vat.
# En laastens, Buckingham-paleis verwerp bewerings van prinses Diana se broer, graaf Spencer, in sy memoir oor die gebeure na haar dood in 1997. Hy beweer die destydse prins Charles het vir hom gesê Diana sal gou vergeet word nadat hulle gestry het oor of prinse William en Harry agter haar kis moes stap. Die paleis sê rou kan herinneringe en oordeel belemmer en het Spencer se weergawe ontken. Die boek, Swan Song: Diana, my Sister, word volgende week uitgegee en het spanning tussen Spencer en die koningshuis weer laat opvlam.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….