Nuus 17:00
BULLETIN 26 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kiesers kan aansoek doen vir spesiale stemme, tuis of in die buiteland
# ‘n Veelparty forum daag die registrasie-vereistes en die verkiesingsrooster uit
# En, sokker: Banyana kom teen Tanzanië te staan in die tweede kwalifiseerder
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê die amptelike lys van 23-duisend-292 stembusse, wat mobiele eenhede insluit, sal van 12 April af beskikbaar wees vir inspeksie. Kiesers kan aansoek doen om spesiale stemme tuis of in die buiteland, wat siek kiesers in staat stel om aansoek te doen om tuisbesoeke, en afwesige kiesers hulle stemme kan laat uitbring voor verkiesingsdag op 29 Mei. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo het kiesers op ‘n nuuskonferensie herinner om te stem waar hulle geregistreer is, maar hy sê hulle is met vooraf kennisgewing in staat om in ‘n ander distrik te stem:
Intussen eis ‘n koalisie van opposisiepartye, insluitend die EFF en die United Democratic Movement, dringend ‘n vergadering met die OVK om kommer oor die verkiesingsrooster te bespreek. Hulle is bekommerd oor die kort tydsraamwerk vir verskeie verkiesingsverwante prosesse, soos die indiening van kandidatelyste teen 8 Maart. Die koalisie voer aan hierdie verkorte skedule beperk deelname van belanghebbendes en kan die deursigtigheid en inklusiwiteit van die verkiesingsproses belemmer. Hulle het ook die kommissie aangemoedig om te verseker die nuwe politieke partye se registrasievereistes voldoen aan die toepaslike wetgewing.
# Adjunk-president Paul Mashatile het die skadelike uitwerking uitgelig wat die wêreldwye tekort aan onderwysers op die gehalte en omvang van onderwys vir kinders het. Hy het gepraat op die Internasionale Taakmag oor Onderwysers se Beleidsforum in Sandton. Mashatile doen voorspraak vir meer betrokkenheid van onderwysers in besluitnemingsprosesse, moedig die jonger geslag aan om die onderwysberoep te betree, en beklemtoon die behoefte aan verbeterde vergoeding vir onderwysers:
# Sokker: Banyana Banyana het ‘n groot voorsprong op Tanzanië in môre se tweede Olimpiese kwalifiseringswedstryd in Mbombela. Suid-Afrika het Tanzanië 3-0 geklop in Vrydag se eerste wedstryd, wat die droom laat voortleef het van deelname aan die Spele in Parys in Julie. Die Banyana-speler Jermaine Seoposenwe, wat een van die doele aangeteken het in Dar-es-Salaam, sê daar is altyd ruimte vir verbetering. As Suid-Afrika môre wen, kom hulle te staan teen Kameroen of Nigerië in die finale kwalifiserende ronde. Banyana het ook deelgeneem aan die Spele van 2012 en 2016.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-95-sent teen die euro en 24-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-326-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-33-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-22-sent per vat.
# En, die president van Algerië, Abdelmadjid Tebboune, het Afrika se grootste moskee, Die Groot Moskee van Algiers, ingewy. Dit is waardeer teen 15-miljard-rand en beskik oor die wêreld se hoogste minaret. Daar kan sowat 120-duisend aanbidders bymekaarkom. Die moskee, wat wêreldwyd die derde grootste is ná die heilige plekke in Mekka en Medina in Saoedi-Arabië, sal binne twee weke gebede hou tydens Ramadan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….