Nuus 17:00
BULLETIN 23 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê lojaliteit aan die ANC is die hoof-riglyn vir kaderontplooiing in poste
# Die Parlement maak gereed vir sy tweede Artikel 1-9-4 ampsaanklag
# En, Namibië en wêreldleiers betoon hul laaste respek aan die ontslape Namibiese president, Hage Geingob
# Die DA se nasionale woordvoerder vir Staatsdiens en Administrasie, Leon Schreiber, striem die ANC se kaderontplooiingsbeleid en sê dit gee aan lojaliteit voorrang, bó meriete. Schreiber sê, lojale kaders word gekies op grond van hul getrouheid aan die party eerder as hul geskiktheid vir poste. Hy het onthul dat die beleid ‘n lojaliteits-rangordestelsel insluit, wat party-lojaliteit as die primêre oorweging het by keuse vir ‘n pos:
# Die Parlement maak gereed vir sy tweede Artikel 1-9-4 ampsaanklag teen die Kommissaris vir Geslagsgelykheid, Mbuyiselo Botha, en wil dit voor die verkiesing afhandel. Botha staan tereg op vyf aanklagte vir disrespekvolle opmerkings oor vroulike kollegas. Botha, wat bekend is vir geslags-aktivisme, is onder die loep ná die verwydering van die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane. Die Parlement beoog om teen volgende maand ‘n onafhanklike paneel te kies om Botha se saak vinnig te beoordeel. Dit volg ná onlangse optrede teen die Wes-Kaapse Regterpresident, John Hlophe, en die afgetrede regter, Nkola Motata.
# Britse owerhede het hul grootste vonds ooit gemaak met Klas A-dwelms en beslag gelê op sowat vyf-duisend-170 kilogram kokaïen ter waarde van meer as tien-miljard-rand. Die dwelms is in ‘n houer piesangs van Suid-Amerika by die Southampton-hawe gevind. Die Nasionale Misdaadagentskap glo die besending was vir Duitsland bestem. Hierdie beslaglegging word beskryf as ‘n reuse slag vir internasionale dwelmkartelle, wat na raming jaarliks 76-miljard-rand uit die Britse kokaïenmark maak en word gekoppel aan ernstige geweld. Die vorige rekord-beslaglegging was ongeveer drie-duisend kilogram in 2022, ook by Southampton.
# Krieket: Engeland het herstel van ‘n swak begin in die vierde toets teen Indië in Ranchi. Ben Stokes het die loot gewen en gekies om te kolf, en die besoekers het hul derde paaltjie verloor op slegs 47. Daarna het Jonny Bairstow en Joe Root vasgeskop, voordat die paaltjies weer begin val het. Root het egter verder vasgebyt en die dag op ‘n onoorwonne 106 afgesluit, met Engeland op 302 vir sewe. Engeland moet die toets wen om die reeks te red nadat hulle die eerste wedstryd gewen, maar die volgende twee verloor het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-19-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-27-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-17-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die oorskot van Namibië se ontslape president, Hage Geingob, beweeg vandag deur die hoofstad, Windhoek. Die adjunkhoof van Personeel en Gesamentlike Bedrywighede by die Ministerie van Verdediging en Veterane-sake, Rehabiam Kalimba, verwag duisende plaaslike en internasionale roubeklaers sal môremiddag Geingob se amptelike gedenkdiens by die Onafhanklikheidstadion bywoon, gevolg deur sy teraardebestelling Sondag, by die nasionale Helde-akker:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….