Nuus 17:00
BULLETIN 22 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula beskuldig die DA van sielkundige manipulasie oor kaderontplooiing
# Rise Mzansi bevraagteken die politieke party-befondsing van R200-miljoen
# en Netbal: Nuwe Protea-afrigter word volgende week aangekondig
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, beskuldig, wat hy beskryf as DA-geleide regse magte, van die voer van ‘n ideologiese offensief, met die verwringing en karikatuur-uitbeelding van die ANC se kaderbeleid en -ontplooiingstrategie. Mbalula het die media toegespreek oor hulle gereedheid vir die manifesbekendstelling, en die DA se beweerde oneerlikheid gekritiseer. Hy sê hulle mislei die publiek deur hulleself voor te doen as ‘n party sonder lede-ontplooiing in die staatsdiens. Mbalula sê die DA se sielkundige manipulasie is teenstrydig met die kern van veelparty-demokrasie:
# Rise Mzansi beweer die 200-miljoen-rand wat toegeken is vir die befondsing van politieke partye voor die algemene verkiesing, sal in die bankrekeninge van groot partye beland. Die hooforganiseerder, Makashule Gana, kritiseer die toekenning. Hy sê kleiner partye soos Rise Mzansi moet staatmaak op skenkings terwyl groot partye soos die ANC en die DA die grootste aandeel ontvang, en fondse herlei wat aandag kan skenk aan ander dringende behoeftes:
# Wetstoepassers van die Stad Kaapstad, bygestaan deur die balju van die hof, het 37 hawelose mense verwyder van die Groenpuntse tennisbaan. Dit volg op die finale uitsettingsbevel wat in Desember uitgereik is deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof vir mense om vrywillig teen die einde van verlede maand die perseel te verlaat. Die wyksraadslid Nicola Jowell sê die stad het toe ‘n uitsettingsbevel verkry om die besetters te verwyder. Sy bevestig die mense is Maandag in kennis gestel.
# Rusland het ‘n visvangooreenkoms wat byna sewe dekades gelede met Brittanje bereik is, opgeskeur nadat die Verenigde Koninkryk sanksies aangekondig het teen ses bestuurders in beheer van die Arktiese gevangenis waar die opposisieleier, Alexei Navalny, verlede week gesterf het. Die Sowjet-leier, Nikita Krus-chev, het die ooreenkoms in 1956 onderteken om Britse bote toe te laat om in die Barents-see vis te vang. Moskou sê die Britte het al 68-jaar Russiese vis geëet en moet nou gewig verloor en slimmer word. Brittanje sê die besluit sal geen wesenlike uitwerking op sy visvoorrade hê nie.
# Netbal: Netbal Suid-Afrika gaan Woensdag die nuwe Protea-afrigter aankondig, na die vertrek van Norma Plummer. Die Australiër het die nasionale span van 2015 tot 2019 afgerig en weer van 2022 tot verlede maand. Onder die voorlopers vir die pos is Jenny van Dyk, Rozanne Matthyse en Dumisane Chauke. Die president van Netbal SA, Cecilia Molokwane, sê die nuwe afrigter sal die nasionale span moet aanwys, en lê klem op die belangrikheid dat die beste spelers uitgeken word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-412-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….