Nuus 17:00
BULLETIN 9 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAPD verdedig die uiteenlopendheid van sy jongste werwingsproses
# Gayton McKenzie eis ‘n demografiese uiteensetting van die nuwe SAPD-rekrute
# En, Koning Harald word ter ruste gelê met Noorweë wat afskeid neem
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sê sy jongste werwingsproses weerspieël die rassesamestelling van die aansoekers, nie die uitsluiting van enige groep nie. Die SAPD het bykans 1,05-miljoen aansoeke ontvang, met die meerderheid Afrika-aansoekers. Die diens sê kandidate moes rybewys-, psigometriese, fiksheids-, mediese en integriteitstoetse aflê. Die woordvoerder, Athlenda Mathe, het wit, Indiër- en bruin-gemeenskappe aangemoedig om aansoek te doen in toekomstige werwingsveldtogte:
Intussen doen die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens om ‘n volledige demografiese uiteensetting van sy jongste werwingsinname vry te stel. McKenzie wil syfers per ras, provinsie en geslag hê, asook die keuringskriteria. Sy kommentaar volg na Sondag se Nasionale Herdenkingsdag by die Uniegebou, waar 12 beamptes wat in die uitvoering van hul pligte gesneuwel het, deur president Cyril Ramaphosa vereer is. Ramaphosa sê werwing en bevorderings moet op meriete, bevoegdheid en integriteit berus, en met toepaslike opleiding en toerusting gepaard gaan.
# Die vakverbond COSATU eis dat die regering en privaat sektor dringend ingryp ná die jongste verslag oor die bruto binnelandse produk. Suid-Afrika se BBP het in die tweede kwartaal vanjaar met 0,2-persent gekrimp na groei van 0,4-persent in die eerste kwartaal. Die daling word grootliks toegeskryf aan die konflik in die Midde-Ooste. COSATU-woordvoerder Matthew Parks sê dapper ingryping is nodig as die land groei van drie-persent wil bereik wat nodig is om werkloosheid, armoede en ongelykheid te hanteer:
# Noorweë het koning Harald die Vyfde ter ruste gelê ná 13 dae van nasionale rou, terwyl groot skares in die strate van Oslo byeengekom het. ‘n Begrafnisstoet het vanaf die koninklike paleis na die Oslo-katedraal beweeg, waar koninklike families en wêreldleiers, waaronder prins William en prinses Anne van Brittanje, die diens bygewoon het. Harald, wat in die ouderdom van 89 gesterf het ná meer as drie dekades op die troon, word onthou as ‘n simbool van nasionale eenheid. Sy kis is later na die koninklike grafkelder in die Akershus-fort geneem.
# Sokker: Die Australiese Wêreldbeker-speler Cristian Volpato is ‘n boete opgelê nadat hy positief getoets is vir kokaïen toe hy in Julie in Sydney vir ‘n spoedoortreding afgetrek is. Die polisie van Nieu-Suid-Wallis sê sy tweede monster het ook ‘n positiewe toets opgelewer. Die 22-jarige middelveldspeler is met agtduisend-300 rand beboet. Volpato het Italië op jeugvlak verteenwoordig voor hy kort voor die Wêreldbekertoernooi weer vir sy geboortland, Australië, begin speel het. Hy het drie wedstryde in die toernooi gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-561-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-408-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 102-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….