Nuus 17:00
BULLETIN 8 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verdedig die indiening van sy kandidatelys
# Die ekonoom, Raymond Parsons waarsku Suid-Afrika se ekonomiese groeivooruitsigte bly broos
# En, Afrika se privaat kredietmark sal aanhou uitbrei
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die party het sy kandidaatlyste voor die sperdatum by die Verkiesingskommissie ingedien, maar tegniese probleme het die finale bevestiging verhoed. Hy sê die party het nie probeer om name by te voeg of te verander nie, maar het die OVK gevra om inligting wat reeds op sy stelsel vasgelê is, te verwerk. Die OVK het die versoek van die hand gewys. Mbalula sê die ANC vra die Verkiesingshof om die lyste te beskou as amptelik ingedien:
# Die ekonoom van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, Raymond Parsons, sê Suid-Afrika se ekonomie het ‘n terugslag beleef nadat die bruto binnelandse produk met 0,2-persent tussen April en Junie gekrimp het. Volgens Parsons het die onlangse wêreldwye energieskok die land se herstel onderbreek, met mynbou en vervaardiging wat groei terughou. Hy verwag die ekonomie sal vanjaar met ongeveer 1,2-persent groei en waarsku swak beleggings, hoë leenkoste en wêreldwye spanning kan ekonomiese groei verder bedreig:
# Die Forum for South Africa sê hy is bekommerd dat voortslepende strukturele druk die gehalte van onderwys in Gauteng beïnvloed. Die provinsiale Onderwysdepartement het vir 2027 altesaam 805-duisend-688 aansoeke vir graad 1 en graad 8 ontvang. Die departement het egter net sowat 405-duisend-600 beskikbare plekke. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê Gauteng se bevolking groei steeds, maar beplanning en belegging in nuwe skole het nie hiermee tred gehou nie:
# Afrika se privaat kredietmark sal na verwagting aanhou uitbrei namate ondernemings en infrastruktuur-projekte hul toenemend wend tot alternatiewe bronne van befondsing. Die kredietgraderingsagentskap Moody’s sê die mark is steeds klein, maar het vinnig gegroei, met bates onder bestuur wat toegeneem het van 28-miljard-rand in 2020 tot 89-miljard-rand einde verlede jaar. Moody’s sê leemtes in tradisionele lenings vuur groei aan, veral in infrastruktuurprojekte en klein- en mediumgrootte ondernemings. Moody’s verwag die neiging sal voortduur, omdat banke steeds huiwerig is vir langtermynbefondsing.
# Krieket: Die kolwer Matthew Breetzke en die veelsydige Corbin Bosch het in Windhoek by die Proteas aangesluit vir die reeks van drie eendagwedstryde teen Namibië. Suid-Afrika het Sondag die driehoekige T20-reeks beklink met ‘n oortuigende oorwinning oor Zimbabwe in die eindstryd. Die eendagreeks word ook op die Namibiese Stadion in die hoofstad beslis. Bosch speel saam met sy jonger broer, Eathan, wat in die T20s gespeel het. Krieket Suid-Afrika het aangekondig die ster-kolwer Lhuan-dré Pretorius en die naatbouler Andile Simelane sal die eendagreeks weens beserings misloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-454-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-403-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 99-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….