Nuus 17:00
BULLETIN 24 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# March and March se leier veroordeel die polisiebegroting van 600-miljoen-rand vir die 30 Junie-betogings
# Vusimuzi “Cat” Matlala gaan afsonderlik verhoor word in die Medicare24-saak
# En, die VSA stel ‘n eksperimentele Ebola-middel beskikbaar vir kliniese toetse in die Demokratiese Republiek die Kongo
# Die anti-onwettige migrasiegroep March and March het die regering se besluit gekritiseer om 600-miljoen-rand te bestee aan die hantering van Dinsdag se verwagte betogings. Die waarnemende minister, Firoz Cachalia, het vroeër aangekondig dat die geld uit die Polisiediens se begroting herlei is om bedryfsgereedheid te verseker. Die groep se leier, Jacinta Ngobese-Zuma, het aan die media gesê die besteding toon die polisie het voldoende hulpbronne om aan wyer veiligheidskwessies te bestee:
# Die Pretoriase Landdroshof het beslis die beweerde misdaadbaas Vusimuzi “Cat” Matlala sal afsonderlik van sy medebeskuldigdes verhoor word in ‘n saak rondom die toestaan van die Medicare24-tender van miljoene-rand. Kaizer Kganyago van die Nasionale Vervolgingsgesag wou nie bevestig of ‘n ooreenkoms met die staat bereik is nie. Hy sê Matlala sal môre in die Handelsmisdaadhof verskyn op aanklag van onder meer korrupsie en bedrog:
# Die geskorste KwaZulu‑Natalse kommissaris van Korrektiewe Dienste, Mnikelwa Nxele, is in die Landdroshof in Pietermaritzburg borgtog van 50-duisend-rand toegestaan. Hy staan tereg op aanklag van bedrog en geldwassery. Dit hou verband met bewerings vanaf 2004 tot 2023. Nxele is in Mei 2025 voorlopig geskors te midde van korrupsie‑ en verkrygingsverwante bewerings. Hy hou vol hy word geteiken nadat hy kommer geopper het oor beweerde opgeblaasde tronkvoedselvoorsieningskontrakte waarby nasionale kommissaris Makgothi Thobakgale betrokke was.
# Eksperimentele Ebola-middels is na die Demokratiese Republiek die Kongo op pad nadat die Verenigde State ‘n behandeling vir kliniese toetse vrygestel het in ‘n voortgesette uitbreking wat meer as ‘n duisend gevalle en minstens 250 sterftes veroorsaak het. Die Wêreldgesondheidsorganisasie en Amerikaanse amptenare het bevestig MBP134 sal vir deernisdoeleindes in die DRK aangewend word. Geen goedgekeurde entstowwe of behandelings bestaan vir die Bundibugyo-stam van Ebola nie, wat verantwoordelik is vir die uitbreking. Sewe-en-negentig-persent van die uitbreking kom in die noordooste van die land voor met ‘n klein aantal gevalle en sterftes in die naburige Uganda.
# Rugby: Moana Pasifika se Superrugby-deelname is verby nadat hy nie daarin kon slaag om geldelike steun te bevestig nie. Die span, wat in Auckland, Nieu-Seeland, gebaseer is, is in 2020 gestig om topvlak-geleenthede te verseker vir spelers van die Stille Oseaan-eilande. Die eienaars het vroeër vanjaar hulle onttrekking aangekondig nadat hulle nie ‘n volhoubare handelsbasis kon verseker nie. SuperSport berig die regerings van Nieu-Seeland, Tonga en Samoa het tevergeefs probeer om die span te red, wat vanjaar laaste op die punteleer was nadat hulle 12 uit 14 wedstryde verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-512-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-991-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….