Nuus 17:00
BULLETIN 23 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# KZN polisie belowe streng optrede teenoor misdaad tydens 30 Junie-optogte
# BOSA sê die regering moet die verlaging van lewenskoste eerste stel
# En, die VN‑hoof vra KI‑ondernemings om hul omgewingsvoetspoor bekend te maak
# Die waarnemende KwaZulu-Natal kommisaris van Polisie, Phumelele Makoba het die media ingelig oor polisiëringsake en gesê enigiemand wat die beplande betogings wil gebruik om misdaad te pleeg, sal die volle mag van die wet ervaar. Dit volg terwyl die anti-onwettige migrasiegroep, March and March, Dinsdag gaan betoog en vra vir strenger afdwinging van immigrasiewette. Makoba sê die polisie sal die optogte monitor om openbare veiligheid tydens die betogings te verseker:
# Build One South Africa sê die nasionale begroting moet beoordeel word oor die mate waarvolgens dit landsburgers se lewens makliker maak en lewenskoste verlaag. BOSA se adjunkleier, Nobuntu Hlazo-Webster, het tydens die debat oor die Begrotingswetsontwerp in die Parlement gesê alhoewel die regering se verligting van die brandstofheffing verwelkom word, is breër hervormings nodig om finansiële druk op huishoudings te verlig. Hlazo-Webster waarsku tekortkominge in die staat lei tot verborge koste, van vervoeruitgawes tot vertragings met toegang tot dienste:
# Getuie K het aan die Madlanga-kommissie gesê sy het 22-duisend-rand ontvang uit ‘n betaling van 110-duisend-rand wat verband hou met inligting oor vermoedelik edelstene. Dit is deel van die bewyse rakende die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-Metropolisie, Julius Mkhwanazi. Getuie K sê die geld is tussen vyf mense verdeel nadat inligting wat sy verskaf het, gelei het tot ‘n operasie met die edelstene waarin inligting vir finansiële vergoeding uitgeruil kon word:
# Die VN-sekretaris-generaal Antonio Guterres het kunsmatige intelligensie-ondernemings gevra om hul groeiende omgewingsvoetspoor bekend te maak en teen 2030 te verbind tot die voorsiening van hernubare energie in alle datasentrums. Guterres het tydens die Londen Klimaatsaksie-week gesê as KI ‘n beter toekoms wil help bou, moet ondernemings eerlik wees oor wat dit die wêreld tans kos. ‘n VN-studie vroeër hierdie maand het bevind datasentrums het in 2025 met die uitsondering van tien, meer elektrisiteit gebruik as byna alle lande. Teen 2030 kan hul kragverbruik dié van alle lande, behalwe vyf, oortref.
# Motorsport: Die sewemalige MotoGP-kampioen, Marc Márquez, het ingestem tot ‘n tweejaar-kontrakverlenging om tot 2028 by Ducati te bly. Die 33-jarige Spanjaard het verlede jaar by die span aangesluit na sy oorskakeling van Honda, en het die seisoen oorheers deur sy sewende kampioenskapstitel te wen. Marquez is tans vierde in die kampioenskap na ‘n moeilike begin van die seisoen, ná verskeie beserings. Hy sê hy is werklik bly om met Ducati voort te gaan en voeg by dat hy nog meer met die span wil bereik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-088-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-114-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 77-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….