Nuus 17:00
BULLETIN 19 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa loof die opvoedkundige rol van die Reserwebankmuseum
# Meer as 300 Zimbabwiërs soek repatriasie by die land se konsulaat in Kaapstad te midde van veiligheidsvrese
# En Rugby, die Bulle is gereed vir enige uitdaging vanaand in Dublin
# President Cyril Ramaphosa het die belangrikheid van die Suid-Afrikaanse Reserwebankmuseum beklemtoon in die bevordering van finansiële geletterdheid en openbare begrip van die ekonomie. Hy het in Pretoria gesê dit sal help om burgers op te voed oor geld, rentekoerse, belasting en die sentrale bank se rol. Ramaphosa het die museum se toegewyde kinderafdeling en skooluitreik-program verwelkom en sê groter finansiële kennis sal help om ‘n bekwame en selfversekerde nasie te ontwikkel:
# Die geskorste hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, het voor die Madlanga-kommissie getuig die ernstige bewerings teen adjudant-offisier Karl Sander regverdig sy tydelike oorplasing. Senona sê bewerings sluit in sy betrokkenheid by die diefstal van kokaïen uit hawens en die verskaffing van dwelms aan ‘n bende. Senona beklemtoon Sander is nie geskors nie en verwerp ook bewerings dat Sander ‘n poligraaftoets moes doen oor ‘n gesteelde koffiemasjien:
# POPCRU, het vandag steun uitgespreek vir COSATU se landwye betogings teen die stygende lewenskoste in verskeie provinsies. Die vakbond sê werkers, insluitend die polisie, korrektiewe personeel en verkeersbeamptes, sukkel met stygende voedselpryse, vervoer-, elektrisiteit- en gesondheidsorgkoste. Die vakbond voer aan onveranderde lone en besparingsmaatreëls vererger ekonomiese probleme vir staatsamptenare. Hy doen ‘n beroep op dringende regeringsingryping, laer lewenskoste en ‘n einde aan beleide wat armoede, ongelykheid en sosiale onbestendigheid vererger.
# Meer as 300 Zimbabwiese burgers soek skuiling en vrywillige repatriasie by hulle land se konsulaat in Kaapstad voor die versetoptrede teen onwettige immigrante die 30ste Junie. News24 berig gesinne het Woensdagaand begin aankom en die getalle het gister toegeneem. Baie sê hulle voel nie meer veilig in hul gemeenskappe nie weens toenemende spanning, ‘n vrees vir aanvalle en intimidasie. Hulporganisasies het kos, komberse en ander noodsaaklikhede verskaf aan diegene wat buite wag.
# Rugby: Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, sê hulle is ongeag die weer in Ierland gereed vir Leinster in vanaand se Verenigde Rugbykampioenskaps-eindstryd. Hy sê hulle gaan die geleentheid geniet en alles uithaal. Die veld op Croke-park in Dublin is glo in ‘n onberispelike toestand, met ‘n 100-persent natuurlike grasoppervlak. Kaptein Marcell Coetzee sê dit is ‘n voorreg en ‘n groot geleentheid om in die eindstryd te speel, en die span wil die meeste daarvan maak. Afskop is vanaand half-nege Suid-Afrikaanse tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-877-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-175-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 78-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….