Nuus 17:00
BULLETIN 7 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Elektrisiteitsopwekking daal met byna 8-persent in Julie
# DA verwelkom minister Aucamp se vinnige optrede teen bewerings oor pryse van bek-en-klouseer-entstowwe
# En, die herstelwerk ná vloede in Krugerwildtuin vorder goed
# Statistiek Suid-Afrika sê elektrisiteitsopwekking het in Julie met 7,9-persent afgeneem, terwyl kragverbruik met 2,6-persent gedaal het. Seisoensaangepaste opwekking was 0,4-persent laer as in Junie. Kragverspreiding het egter vergeleke met Junie met 0,3-persent toegeneem. Tsholofelo Ditinti van Statistiek SA sê elektrisiteitsopwekking het oor die drie maande tot einde Julie met 1,3-persent afgeneem, terwyl die verspreiding van elektrisiteit oor dieselfde tydperk met 1,2-persent toegeneem het:
# Die DA het die minister van Landbou, Willie Aucamp, geloof vir sy vinnige optrede teen bewerings oor bek-en-klouseer-entstowwe se pryse. Dit volg nadat Onderstepoort Biologiese Produkte se raad sy waarnemende hoof, Jacob Modumo, voorlopig geskors het. Volgens GroundUp het Onderstepoort bek-en-klouseer-entstofdosisse van Biogénesis Bagó in Argentinië aangekoop teen 45-rand, maar dit verkoop teen tussen 70-rand en 130-rand. Desiree van der Walt van die DA sê Suid-Afrika kan nie buitensporig vasgestelde entstofpryse bekostig nie:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, David Maynier, sê beduidende vordering is gemaak met die herstel van vloedbeskadigde infrastruktuur in die Krugerwildtuin. Hy het amptelik die herboude leivore op die pad tussen Skukuza en Laer-Sabie in Mpumalanga in gebruik gestel en die nuwe Letaba-hoogwaterbrug in Limpopo geopen. Maynier sê die projekte sal help om die wildtuin beter te beskerm teen uiterste weerstoestande:
# China versnel pogings om mensagtige robotte vir moontlike militêre gebruik te ontwikkel. ‘n Reuters-ondersoek het bevind navorsers wat met die Volksbevrydingsleër verbind word, kyk hoe die robotte in slagveldrolle gebruik kan word, insluitend verkenning, logistiek en ander gevaarlike sendings. ‘n Verdedigingsprojek by ‘n universiteit wil robotte binne die volgende vyf tot tien jaar saam met soldate in stedelike veiligheidsoptredes gebruik. Die tegnologie ly egter steeds onder probleme soos batterylewe en betroubaarheid, maar China se vinnige vooruitgang in kommersiële robotika gee sy weermag ‘n groeiende poel tegnologie om op te steun.
# Sokker: België sal nie Gianni Infantino se herverkiesing as FIFA-president ondersteun nie, tensy hulle ‘n bevredigende verduideliking ontvang oor die hantering van die Amerikaanse doelskieter Folarin Balogun se rooi kaart tydens die Wêreldbeker. FIFA het die outomatiese rooi kaart opgeskort, blykbaar nadat president Donald Trump as mede-gasheerland met Infantino gepraat het waarna Balogun toegelaat is om teen België te speel. Die land sê dit is noodsaaklik dat sulke gevalle deursigtig en streng in almal se belang hanteer word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-569-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-403-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 99-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….