Nuus 17:00
BULLETIN 19 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Borgtog vir vier mans wat aangekla word van aanhitsing van geweld in Groblersdal
# Navalny se ma en prokureur word toegang tot sy liggaam geweier
# En, rugby: Die Bulle is na tien rondes die top-Suid-Afrikaanse span in die V-R-K
# Borgtog van vyf-duisend-rand elk is toegestaan aan vier mans na hulle verskyning op aanklagte van aanhitsing tot openbare geweld in Groblersdal in Limpopo. Devon Hofmeyr, Willem Petzer, Francois van der Merwe en Tewie Wessels staan tereg nadat onderonsies uitgebreek het buite die plaaslike Landdroshof waar die eienaar van ‘n sekerheidsmaatskappy, Piet Groenewald, en sy stiefseun, Stephan Greeff, verskyn het vir die beweerde aanranding van ‘n werknemer, Veneruru Kavari, en aanhitsing van ‘n hond teen hom. Landdros Agmat Mphago het vanoggend gesê almal is gelyk voor die reg en moet as onskuldig beskou word totdat skuld bewys is.
# Die Azanian People’s Organisation waarsku oor die aansienlike invloed van geld in die aanloop tot die verkiesing. Azapo is bekommerd oor die steun wat politieke partye kry van slim sakelui terwyl hulle geen bewese geskiedenis of lidmaatskap het nie. Hulle vrees geldelike steun kan die politieke agenda voorskryf en ‘n invloed op die demokrasie hê. Azapo se woordvoerder, Jabu Rakwena, moedig joernaliste en die publiek aan om die motiewe agter geldelike steun te ondersoek:
# Die ma en die prokureur van die voormalige Russiese opposisieleier, Alexei Navalny, is volgens berigte toegang geweier tot die lykshuis waar sy liggaam gehou word. Hy is verlede week in ‘n Arktiese tronk dood terwyl hy aangehou is vir beweerde verduistering en minagting van die hof. Dit het gevolg nadat hy ‘n paar jaar gelede ‘n vermeende vergiftiging oorleef het. Westerse lande hou Rusland se regering aanspreeklik vir Navalny se dood, terwyl ‘n paramedikus gesê het sy liggaam toon tekens van kneusing. Die amptelike weergawe is hy het siek geword nadat hy gaan stap het en kon nie bygebring word nie.
# Rugby: Die Bulle is na tien rondes die top-Suid-Afrikaanse span op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer. In die naweek se derbies, het die Bulle die Leeus in Johannesburg geklop en die Stormers het in Durban teen die Haaie gewen. Leinster het hulle plek bo-aan die punteleer verstewig, gevolg deur Glasgow Warriors, met die Bulle derde en die Stormers sesde. Die direkteur van rugby van die Bulle, Jake White, is in sy noppies oor sy span se posisie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-361-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-18-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-20-sent per vat.
# En, die Stad Kaapstad het bevestig die onaangename reuk wat in die lug hang, kan toegeskryf word aan die aankoms van ‘n skip wat vee vervoer, die Al Kuwait, gisteraand by die Kaapstadse hawe. Die Stad se burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê die reuk het hoofsaaklik gebiede soos Woodstock, Observatory, Groenpunt en die sakekern geraak. Die skip is geskeduleer om vanaand te vertrek. Die Kaap die Goeie Hoop DBV het intussen ‘n hofbevel verkry om ‘n inspeksie op die vaartuig uit te voer, wat tans onderweg is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….