Nuus 17:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 17 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee mans is in Gauteng in hegtenis geneem vir die inbraak by Saru-huis in Kaapstad
# KwaZulu-Natal en Limpopo sien ‘n aansienlike daling in moordsyfers
# En, motorsport: Ferrari gee die pas aan op die eerste dag van die Las Vegas Grand Prix
# Die Gautengse polisie het twee mans in hegtenis geneem in verband met hierdie week se inbraak by SA Rugby se hoofkantoor in Kaapstad waarin vyf getekende rugbytruie, whisky en skootrekenaars gesteel is. Die inbrekers het deur ‘n venster op die grondvloer toegang gekry tot Saru-huis in Plattekloof. Kringtelevisie-beeldmateriaal wat op sosiale media gedeel is, wys hoe die twee mans om die gebou rondstap. Een van hulle het later die replika van die Webb Ellis-trofee in die hande gekry, maar dit toe gelos. Die twee mans sal in ‘n hof in Kaapstad verskyn sodra hulle aangekla word.
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, sê KwaZulu-Natal en Limpopo se dubbelsyfer-persentasiedalings in hul moordsyfers bly bemoedigend. Dit is ten spyte van talle massaskietvoorvalle wat KwaZulu-Natal ervaar het, waarin drie of meer lewens op ‘n slag geëis is. Daar is egter toenames in die moordsyfers in Mpumalanga, Gauteng, die Wes-Kaap, die Vrystaat en Noordwes. Cele het op ‘n nuuskonferensie die misdaadstatistiek van die tweede kwartaal aangekondig. Hy het sy kommer uitgespreek omdat die syfers aandui baie vroue en kinders is nie veilig by mense wat hulle ken en vertrou nie:
Speel klankgreep: ENG CeleOnMurderRates
# Die saak van die voormalige raadsvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Dudu Myeni, en die uitvoerende beampte van Sondolo IT, Eric Mathenjwa, is in die Landdroshof in Richardsbaai tot 9 Februarie volgende jaar uitgestel. Die saak handel oor beweerde bedrog en korrupsie van 300-duisend-rand wat met BOSASA verbind word. Die Zondo-verslag toon Myeni het korrupsie moontlik gemaak en oudpresident Jacob Zuma beïnvloed om BOSASA te bevoordeel. Myeni en Mathenjwa is uit op borgtog van tien-duisend-rand elk. Die woordvoerder van die NVG, Sindisiwe Seboka, bevestig hulle het die nodige dossiere ontvang:
Speel klankgreep: ENG-SebokaOnMyen
# Frankryk en Kenia span kragte saam om by COP28 ‘n internasionale belastingtaakspan te bepleit, wat daarop gemik is om nuwe heffings te verseker om inisiatiewe ten opsigte van klimaataksie te finansier. President William Ruto van Kenia en Emmanuel Macron van Frankryk lei hierdie poging tot samewerking. Climate Home berig dat die taakspan heffings op skeepvaart, lugvaart, finansiële transaksies en fossielbrandstowwe sal ondersoek. Gevorderde besprekings is aan die gang om die koalisie in Dubai uit te brei, met die doel om eenstemmigheid te bereik oor spesifieke voorstelle by COP30.
# Motorsport: Daar was drama op die eerste dag van die Las Vegas Grand Prix. Die eerste oefenrondes is na net nege minute afgelas toe Carlos Sainz se Ferrari ʼn losstaande mangatdeksel getref en sy motor erg beskadig is. Die tweede oefenronde het twee en ʼn half-uur later begin met Ferrari wat die pas aangee. Charles Leclerc was ʼn halwe sekonde vinniger as Sainz met Fernando Alonso van Aston Martin die derde vinnigste. Sainz is ook met tien plekke op die wegspringrooster beboet omdat die nuwe battery waarmee die beskadigde een vervang is, buite sy toelating is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-534-dollar-50-sent. Die prys van goud is een-duisend-989-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….