Nuus 17:00
BULLETIN 16 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party dreig met regstappe en massa-versetoptrede as Ramaphosa in sy amp bly
# Die EFF steun die stigting van ‘n parlementêre ad hoc-komitee in verband met Mkhwanazi se bewerings
# En krieket: Engeland word gestraf vir sy stadige boultempo in die derde toets teen Indië op Lord’s
# Die MK-party sê hy sal regstappe doen en landwye versetoptogte reël as president Cyril Ramaphosa aan bewind bly. Die party eis sy bedanking teen Vrydag. MK voer aan Ramaphosa se voortgesette teenwoordigheid in die amp is teen die wil van kiesers en ondermyn demokrasie. Die party beplan om ‘n mosie van wantroue by die Parlement in te dien. Die woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê die huidige administrasie is verraad teenoor demokrasie en ‘n bedreiging vir die land se toekoms:
# Die EFF het ingestem tot die stigting van ‘n parlementêre ad hoc-komitee wat aanspreeklikheid en toesig eis. Mathibe Mohlala van die EFF het aan die gesamentlike portefeuljekomitee op die Polisie en Justisie gesê die party steun die ondersoek na die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings van politieke inmenging in misdaadvoorkomingspogings. Sy waarsku egter oor vorige ad hoc-komitee-mislukkings en het die uitsluiting van die gesamentlike staande komitee oor Intelligensie gekritiseer:
# Statistieke Suid-Afrika sê mynbouproduksie het op ‘n jaargrondslag effens gestyg in Mei met 0,2-persent. Ystererts was die sterkste presteerder met ‘n toename van 7,5-persent. Die produksie van steenkool en mangaan het egter gedaal. Mineraalverkope teen huidige pryse het met 19-persent jaar-op-jaar gestyg, hoofsaaklik aangedryf deur ‘n skerp styging in goudverkope. Juan-Pierre Terblanche van Statistieke SA sê verkope het met ses-persent gestyg vanaf April en ‘n toename van vier-persent oor die afgelope drie maande getoon:
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid sê alle aangewese werkgewers moet vanaf volgende maand tot Augustus 2030 hul diensbillikheidsplanne voorberei en instel. Dit volg ná die afsluiting van nasionale slypskole wat daarop gemik was om werkgewers te lei oor hoe om aan die gewysigde Wet op Diensbillikheid te voldoen. Klein ondernemings met minder as 50 werkers hoef nie meer verslae in te dien nie. Die departement se woordvoerder, Teboho Thejane, sê die fokus is op billike aanstellings en nie kwotas nie.
# Krieket: Engeland het twee Wêreldtoetskampioenskaps-punte afgestaan en ‘n boete van tien-persent van hulle wedstrydfooi ontvang vir stadige boultempo gedurende hulle oorwinning oor Indië in die derde toets op Lord’s. Die Internasionale Krieketraad sê kaptein Ben Stokes het skuldig gepleit en die straf aanvaar, wat daartoe gelei het dat Engeland van tweede na derde plek in die nuwe siklus teruggesak het, na Australië en Sri Lanka. Engeland loop 2-1 voor in die reeks van vyf toetse teen Indië, met die voorlaaste wedstryd wat volgende Woensdag op Old Trafford begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-774-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….