Nuus 17:00
BULLETIN 18 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa stel die Mylpale van Vryheid-program bekend en vra vir hernude nasionale eenheid
# Die DA sê 56-persent van die land se polisiestasies kan nie per telefoon bereik word nie
# En sokker: Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, verwerp wydverspreide, vals aanhaling en vra vir Afrika-eenheid
# President Cyril Ramaphosa het die Mylpale van Vryheid-program by die Uniegebou in Pretoria bekendgestel. Hy het Suid-Afrikaners versoek om die belofte van demokrasie te hernu en daadwerklik deel te neem aan die vorming van die land se toekoms. Ramaphosa het die 1956-vroue-optog, die gedwonge verwyderings uit Distrik Ses in Kaapstad, die Soweto-opstand in 1976 en die aanvaarding van die Grondwet uitgelig as bepalende oomblikke in Suid-Afrika se geskiedenis:
# Die DA sê 56-persent van die land se polisiestasies kan nie per telefoon bereik word nie. ‘n Landwye oudit het bevind 571 uit meer as een-duisend polisiestasies het nie hul gelyste amptelike nommers beantwoord nie. Limpopo het die swakste reaksiekoers getoon, gevolg deur die Vrystaat. Die DA-lid, Ian Cameron, sê die bevindings beklemtoon voortdurende uitdagings in die polisiediens, insluitend personeeltekorte, verouderde tegnologie en kommunikasieprobleme:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens verwag van vandag af koue tot koel weer oor die grootste deel van die land, veral in Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, die Vrystaat, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. ‘n Geel vlak-een-waarskuwing is uitgereik vir sterk wind in die weste van die Noord-Kaap wat verkeer tot Saterdag kan ontwrig. Voorspelers verwag die naweek ook buie en donderbuie in dele van die land. Motoriste word aangeraai om versigtig wees, veral tydens winderige toestande in die Noord-Kaap.
# Ontploffings en geweervuur is naby die lughawe in Niger se hoofstad, Niamey gehoor. ‘n Ooggetuie het aan AFP gesê die geweervuur, wat twee ure lank geduur het, was by die ingang na die Diori Hamani-internasionale lughawe. Niger veg al ‘n dekade lank teen Islamitiese insypeling. Vermeende jihadiste het in Januarie ‘n aanval op dieselfde lughawe uitgevoer. Plaaslike owerhede het onlangs woonbuurte naby die lughawe platgestoot weens terreur-gevare. Hulle het ook die omheining rondom die lughawe verleng en meer as 350 waarnemingskameras aangebring.
# Sokker: Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, het ‘n virale aanhaling verwerp wat verskyn het na Suid-Afrika se Wêreldbeker-nederlaag teen Mexico en beweer het hy kritiseer mense van Afrika omdat hulle die teenstander ondersteun. Williams het in Atlanta gesê hy het nooit die opmerkings gemaak nie en sy geloof in Afrika-eenheid herbevestig. Die doelwagter het mense aangespoor om die politiek aan politici oor te laat en sokker toe te laat om mense bymekaar te bring te midde van die deurslaggewende wedstryd teen die Tsjeggiese Republiek wat vanaand ses-uur afskop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-287-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-258-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 77-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….