Nuus 17:00
BULLETIN 17 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die landbousektor hou sy asem op oor die leierskapsverandering
# Die ANC-Jeugliga steun strenger optrede teenoor wangedrag in wetstoepassing
# En, Sokker: Die Springbok-hulpafrigter sê Suid-Afrikaners moenie Bafana te erg kritiseer nie
# Die Vryheidsfront Plus sê die landbousektor wag om te sien of die voorgestelde leierskapsverandering in die Ministerie van Landbou ‘n verbetering gaan wees. Die party sê berigte dat die voormalige DA-leier en minister van Landbou, John Steenhuisen, moontlik met Willie Aucamp vervang kan word, het die sektor in onsekerheid gedompel. Wynand Boshoff van die party sê Steenhuisen se ampstermyn het tekortkominge blootgelê met die hantering van krisisse soos die bek-en-klouseeruitbreking:
# Die geskorste KwaZulu-Natalse Valke-brigadier, Campbell Nyuswa, het voor die Madlanga-kommissie getuig die provinsiale hoof van die Valke, Leseja Senona, het albei stelle sleutels van ‘n kluis met gekonfiskeerde dwelmbewyse gehad. Die bewyse sluit 541 kilogram kokaïen in, met ‘n geraamde waarde van sowat 200-miljoen-rand waarop beslag gelê is tydens ‘n klopjag in Port Shepstone in 2021. Die dwelms is later uit die Valke se kantore gesteel, in wat na bewering ‘n interne diefstal was. Hy beklemtoon die bewyseketting is ondermyn:
# Die ANC-Jeugliga in Gauteng verwelkom die voorlopige skorsing van die hoofinspekteur van Gautengse Verkeer, Samuel Mashaba, en neem kennis van die regstappe wat die hoof van die Valke, Ebrahim Kadwa, betrek. Oscar Kanyane van die liga sê dit bewys geen openbare amptenaar is bo die wet verhewe nie en beklemtoon die belangrikheid van aanspreeklikheid. Hy sê korrupsie en magsmisbruik ondermyn dienslewering en geleenthede vir jongmense:
# Renault in Frankryk gaan militêre hommeltuie vervaardig saam met die verdedigingstegnologiefirma Thales in ‘n verdere stap om hom te begewe in die produksie van militêre toerusting. Die motorvervaardiger sal Thales se Toutatis-afstandbeheerde gewapende hommeltuie in een van sy fabrieke bou. Die produksie van ‘n duisend eenhede per maand sal volgende jaar begin, hoofsaaklik gemik op oorsese markte. Die maatskappye sê die ooreenkoms sal Frankryk se nywerheidsvermoë op strategiese gebied aansienlik verhoog. Hommeltuie wat oor ‘n teiken sweef voordat dit aanval, speel ‘n sentrale rol in die oorlog in Oekraïne.
# Sokker: Bafana Bafana speel môre teen die Tsjeggiese Republiek in sy Wêreldbeker-groep A-wedstryd nadat hy 2-0 teen die gasheer, Mexiko, verloor het in Donderdag se openingswedstryd. Suid-Afrika is daarvan beskuldig dat hy totaal oorskadu is, skaars ‘n doelskop kon waag en twee rooikaarte verdien het. Die Springbokrugbyspan se hulpafrigter, Deon Davids, sê egter Suid-Afrikaners moet Bafana nie te erg veroordeel nie, en dink aan die tye toe die nasionale rugbyspan onder soortgelyke druk was. Hy sê die sokkerspelers moet net fokus op dit wat hulle kan beheer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-945-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-329-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 79-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….