Nuus 17:00
BULLETIN 15 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership South Africa verwelkom vordering met hervormings, maar waarsku die beleggingskrisis duur voort
# Kaapstad se burgemeester verwelkom steun deur die Polisie om die magte van die Metropolisie uit te brei
# En, Rugby: Die Springbok-vroue speel in ‘n geskiedkundige toetsreeks teen Ierland in Kaapstad
# Business Leadership South Africa sê onlangse ontwikkelings, insluitend ‘n kredietopgradering, verbeterde haweprestasie in Durban, KwaZulu-Natal, en sterker as verwagte bruto binnelandse produkgroei, toon hervormings begin werk. Die organisasie waarsku egter belegging bly te laag teen slegs 13,5-persent van die bruto binnelandse produk, ver onder die 30-persent-teiken wat nodig is om sterker groei te dryf. In haar weeklikse nuusbrief het die uitvoerende hoof van BLSA, Busisiwe Mavuso, gesê volgehoue beleidsonsekerheid, swak beleggersvertroue en wêreldwye ekonomiese druk, hou vordering terug.
# Die vakbondfederasie Cosatu verwelkom die kredietgraderingsagentskap Fitch se jongste gradering van Eskom as ‘n positiewe mosie van vertroue. Die kragvoorsiener se langtermyn-gradering is opgradeer van B na B-plus na die onlangse opgradering van Suid-Afrika se soewereine kredietgradering. Dis ‘n kritieke tyd vir Eskom, wat sy langtermyn bedryfs-omkeerplan uitvoer. Matthew Parks van Cosatu sê nadat Eskom beurtkrag oorkom het, het hy nou steun nodig om krag bekostigbaar te maak:
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het die steun verwelkom van die uittredende Wes-Kaapse polisiekommissaris, Thembisile Patekile, vir groter magte vir die Metropolisie. Patekile het voorgestel sekere polisiëringsfunksies kan na die Metropolisie oorgedra kan word om druk op die polisie te midde van hulpbronbeperkings te verlig en hulle toe te laat om op gespesialiseerde ondersoeke te fokus. Hill-Lewis doen nou ‘n beroep op die nasionale regering om op die voorstel te reageer:
# ‘n Meksikaanse man wat op video betrap is terwyl hy die hoeke van sy oë op skrefies trek tydens die Wêreldbeker-wedstryd tussen Suid-Korea en die Tsjeggiese Republiek, het om verskoning gevra nadat die video hewige kritiek ontlok het. ‘n Suid-Koreaanse inhoudskepper het ‘n video van haarself by die wedstryd geplaas met Ulises Fernando Bernal Miramontes wat agter haar wat sy oë skuins trek. Die gebaar word as ‘n belediging teenoor Oos-Asiërs beskou. Bernal het later om verskoning gevra en is blykbaar uit sy posisie as president van ‘n Meksikaanse ingenieursgilde verwyder. Suid-Korea het van agter gekom om die Tsjeggiese Republiek met 2-1 te verslaan.
# Rugby: Die Springbok-vroue sal Ierland op 24 en 31 Oktober in Kaapstad ontvang vir ‘n geskiedkundige eerste toetsreeks tussen die twee lande. Die spanne het mekaar slegs een keer voorheen ontmoet, 20 jaar gelede in Kanada tydens die Vrouerugbywêreldbeker, met Ierland wat met 37-0 gewen het. Die Springbok-vroue se hoofafrigter, Swys de Bruin, het die bevestiging van die wedstryde verwelkom en gesê dit is die perfekte manier om ‘n stampvol 2026-internasionale seisoen af te sluit. Hy het gesê om teen Ierland te speel, wat vyfde in die wêreld gekeur is, sal ‘n sterk poging van die span vereis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-823-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-353-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 82-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….