Nuus 17:00
BULLETIN 8 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU verwelkom president Cyril Ramaphosa se toespraak oor migrasie-uitdagings
# Die Oos-Kaapse Regterpresident Selby Mbenenge dien ‘n dringende interdik in teen die Regterlike Dienskommissie se bevinding oor growwe wangedrag
# En sokker: Mama Joy Chauke se Wêreldbeker-droom is aan skerwe na borgskap-omstredenheid
# Die vakbondfederasie Cosatu stem ten volle saam met president Cyril Ramaphosa dat intimidasie, geweld en xenofobie teen buitelandse burgers nie die antwoord is op die land se probleme nie. Hy het beklemtoon buitelandse burgers veroorsaak nie Suid-Afrika se ekonomiese probleme nie, maar die ekonomie misluk om werk te skep. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, verwelkom ook die bevestiging dat tien-duisend arbeidsinspekteurs aangestel sal word om die nakoming van arbeidswette te versterk:
# Die Oos-Kaapse Regterpresident Selby Mbenenge het ‘n hersieningsaansoek en ‘n dringende interdik by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien, om die Regterlike Dienskommissie se bevinding te betwis dat hy skuldig is aan growwe wangedrag. Die kommissie het ‘n vroeëre beslissing van ‘n Regterlike Gedragstribunaal tersyde gestel, wat hom skuldig bevind het aan wangedrag nadat hy tussen 2021 en 2022 ongewenste seksuele toenadering gesoek het by die sekretaresse Andiswa Mengo. Die saak is verwys vir moontlike parlementêre ampsklagverrigtinge. Mbenenge wil intussen hê die besluit moet hersien en tersyde gestel word.
# Die leier van RiseMzansi, Songezo Zibi, is bekommerd dat nasionale regeringsdepartemente ondermyn word deur munisipaliteite wat nie hul pligte doeltreffend nakom nie. Hy het in Johannesburg aan die media gesê swak koördinering en aanspreeklikheid, asook ‘n gebrek aan vermoë op plaaslike regeringsvlak, dra by tot dienslewerings-versteurings. Zibi waarsku dat landsburgers regstreeks geraak word deur hierdie mislukkings en vra dringende hervormings. Hy dring aan op sterker toesig, verbeterde bestuur en groter verantwoordelikheid:
# Minstens 32 mense is dood ná vanoggend se aardbewing van 7,8 langs die kus van die Mindanao-eiland in die suidelike Filippyne. Die aardbewing het gelei tot tsunami-waarskuwings in dié land, asook in Indonesië, Japan en Australië. Meer as 100 mense in verskeie provinsies is beseer, byna twaalf word vermis, en tien-duisend inwoners is voorlopig ontruim. Meer as 130 naskokke, wat gewissel het van 1,3 tot 6,7, is aangeteken. President Ferdinand Marcos Junior sê agentskappe werk saam aan hul rampreaksie.
# Sokker: Suid-Afrika se super-ondersteuner, Mama Joy Chauke, sê haar hart is gebreek nadat sy nie ‘n borgskap kon kry om die Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika by te woon nie. Sy is bekend vir haar uitbundige ondersteuning van nasionale spanne op groot internasionale sportgeleenthede. Die besluit volg na ‘n volgehoue debat oor staatsbefondsing vir beïnvloeders en super-ondersteuners. Chauke sê dit maak seer om uitgesluit te word ondanks haar langdurige ondersteuning van Suid-Afrikaanse sport en die bevordering van nasionale trots op die wêreldverhoog.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-701-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-330-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….