Nuus 17:00
BULLETIN 2 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Forum for South Africa veroordeel die regering oor die stygende brandstofpryse en die lewenskoste-krisis
# Adjudant-offisier Karl Sander sê aan Madlanga-kommissie bewysstukke mag nooit deur beamptes vernietig word nie
# En, twee mense is doodgeskiet in Keniaanse versetoptrede teen ‘n Amerikaanse Ebola-kwarantynsentrum
# Die Forum for South Africa het die jongste brandstofprysaanpassing gekritiseer en die regering daarvan beskuldig dat hy nie burgers teen stygende lewenskoste beskerm nie. FOSA sê hoë brandstofpryse word nie net deur globale faktore gedryf nie, maar ook deur oormatige belasting en heffings. Tebogo Mashilompane van die organisasie voer aan herhaalde brandstofverhogings stoot vervoer- en voedselkoste op, wat die druk op huishoudings en ondernemings verhoog:
# Adjudant-offisier Karl Sander van die Valke in KwaZulu-Natal het aan die Madlanga-kommissie gesê ondersoekbeamptes word nie toegelaat om bewysstukke te vernietig nie, en beklemtoon alle bewysstukke behoorlik bewaar en rekenskap van gegee word. Sander se getuienis is deel van ‘n ondersoek na die diefstal van meer as 500 kilogram kokaïen in 2021 uit ‘n Valke-bergingsfasiliteit in Port Shepstone. Hy het kommer uitgespreek oor die hanterin van bewysstukke en beweerde korrupsie binne wetstoepassingstrukture:
# Die Landdroshof in Alexandra het die bedrog- en korrupsiesaak geskrap teen die hoof van die Johannesburgse Ontwikkelingsagentskap en waarnemende uitvoerende hoof van die Johannesburgse Maatskaplike Behuisingsmaatskappy. Die 29-jarige Themba Mathiba is in Januarie in hegtenis geneem oor beweerde onreëlmatighede in verkryging gedurende sy tyd by die maatskappy. Die Nasionale Vervolgingsgesag is vyf maande toegestaan om elektroniese toestelle te ontleed waarop beslag gelê is. Aanklaers het nie voldoende bewyse ingesamel nie en aansoek gedoen vir uitstel. Die hof het gelas genoegsame tyd is reeds toegestaan.
# Twee mense is doodgeskiet in die sentrale Keniaanse dorp Nanyuki te midde van versetoptrede teen Amerikaanse planne om ‘n Ebola-kwarantynsentrum in ‘n nabygeleë militêre basis te vestig. Honderde betogers het Maandag in die strate opgeruk, paaie versper en buitebande verbrand terwyl polisie traangas gebruik het om die skare uiteen te jaag. Die Amerikaanse plan het openbare kommer ontketen oor oorgrens infeksiegevare. Die 50-bed-sentrum, beman deur Amerikaanse mediese personeel, is om Amerikaanse burgers te behandel. wat deur die huidige Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo geraak word.
# Sokker: Kaizer Chiefs het die Franse afrigter Fernando Da Cruz as hul nuwe hoofafrigter op ‘n tweejaarkontrak aangestel met ‘n opsie om die kontrak te verleng. Die 53-jarige sal na verwagting saam met vier lede van sy afrigtingspan hier aankom as deel van ‘n hersiene tegniese span. Dit volg na die vertrek van mede-hoofafrigters Cedric Kaze en Khalil Ben Youssef nadat hul tweejaarkontrakte tot ‘n einde gekom het. Hulle het die span na hul beste liga-plasing in ses jaar gelei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-948-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-515-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 94-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….