Nuus 17:00
BULLETIN 1 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, kondig ‘n vennootskapsplan aan om siektebeheer te versterk
# Getuie D se gesin verwelkom die weiering van borgtog vir sy vermeende moordenaar
# En, Amerika en Iran val mekaar weer aan te midde van vrese dat die wankelrige wapenstilstand kan ineenstort
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê ‘n nuwe openbare-privaat biosekerheidsmodel sal bekendgestel word om langtermynbeheer van bek-en-klouseer te versterk. Steenhuisen sê die regering vorder goed in sy stryd teen die siekte, met 13,5-miljoen entstofdosisse wat verkry is en byna 4,4-miljoen diere wat reeds ingeënt is. Hy voeg by meer entstofdosisse het intussen in die land aangekom en bykomende voorraad word verwag, wat ondersteun wotf deur regulatoriese goedkeurings om die proses te bespoedig:
# Die gesin van die vermoorde verklikker en getuie, Marius van der Merwe, bekend as Getuie D voor die Madlanga-kommissie, verwelkom die weiering van borgtog aan die beskuldigde, Matipandile Sotheni. Die Landdroshof in Brakpan, Gauteng, is bekommerd dat Sotheni ‘n vlugrisiko kan wees en ‘n moontlike bedreiging inhou vir getuies. Van der Merwe is in Desember voor sy huis in Brakpan vermoor. Sy suster, Natasha, beskryf die uitspraak as ‘n klein oorwinning:
# Die Johannesburgse Metropolisie het tydens ‘n weeklange padveiligheidsaksie tussen 25 en 31 Mei, 161 motoriste in hegtenis geneem vir bestuur onder die invloed van alkohol. Die woordvoerder, Xolani Fihla sê die arrestasies volg op strategiese padversperrings en mobiele stop-en-deursoek-operasies regoor Johannesburg. Hy sê die syfers beklemtoon die gevare van dronkbestuur en waarsku dat oortreders in hegtenis geneem sal word. Hy voeg by die metropolisie sal verskerpte operasies dwarsdeur die wintermaande voortsit:
# Die Amerikaanse Weermag sê hy het die naweek selfverdedigings-aanvalle uitgevoer op Iranse radar- en hommeltuigterreine in die stad Goruk en die eiland Qeshm. Die Amerikaanse Sentrale Bevel sê dit het gevolg op Iran se aggressiewe optrede. Iran se Islamitiese Revolusionêre Wag het uit weerwraak ‘n Amerikaanse Lugmagbasis aangeval wat na bewering gebruik is om ‘n aanval op ‘n telekommunikasietoring op die Iranse eiland Sirik uit te voer. Die jongste aanvalle is die derde groot skending van ‘n wapenstilstand wat in April ingestel is.
# Sokker: Mexiko se doelwagter, Guillermo Ochoa, is reg vir sy sesde Wêreldbekertoernooi, saam met die supersterre Lionel Messi van Argentinië en die Portugese kaptein, Cristiano Ronaldo. Die 40-jarige Ochoa is ingesluit in die groep van die mede-gashere wat die wêreldwye skouspel die elfde teen Suid-Afrika afskop. Ochoa het sy eerste verskyning in 2006 in Duitsland gemaak en ook in die volgende toernooie in Suid-Afrika, Brasilië, Rusland en Katar gespeel. Mexiko speel ook teen Suid-Korea en die Tsjeggiese Republiek in Groep A.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-942-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-501-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 92-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….