Nuus 17:00
BULLETIN 21 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra vir sterker landbou-, mynbou- en hernubare energie-bande tussen Suid-Afrika en Botswana
# Die Wes-Kaapse regering vra vir geduld terwyl herstelwerk na hewige storms voortduur
# En rugby: Die Griekwas en Pumas is gereed vir hul derde agtereenvolgende SA-bekereindstryd
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se landbousektor is gereed om met saam met Botswana te werk om voedselsekerheid te versterk en sy boerderybedryf te laat groei. Ramaphosa het tydens die Suid-Afrika-Botswana bi-nasionale kommissie se beraad ministers versoek om landbou-invoerbeperkings teen Desember 2026 op te los. Ramaphosa het geleenthede in mynbou, energie en infrastruktuur uitgelig, insluitend die Mmamabula-Lephalale-spoorprojek. Hy sê sterker samewerking in hernubare energie en nywerheid sal streeksekonomiese integrasie bevorder:
# Die Wes-Kaapse regering sê herstelwerk duur voort nadat onlangse hewige storms tot wydverspreide skade regoor die provinsie gelei het. Eskom berig ongeveer 70-persent van die nege-duisend aangemelde elektrisiteitsfoute is herstel, maar daar bly uitdagings in vloedgeteisterde en afgeleë bergagtige gebiede. Meer as die helfte van die 400 beskadigde paaie is reeds herstel. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê humanitêre hulppogings duur ook voort. Hy het inwoners gevra om geduldig bly terwyl die werk aan die gang is.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het FlySafair na die Nasionale Verbruikerstribunaal verwys oor beweerde oortredings van die Wet op Verbruikersbeskerming. Die ondersoek volg na klagtes dat die lugredery vliegkaartjies oorbespreek of oorverkoop het, wat sommige passasiers sonder sitplekke gelaat het ten spyte van geldige besprekings. FlySafair het in die openbaar erken dat oorbesprekings deel van sy sakepraktyke vorm. Die kommissie se woordvoerder Phetho Ntaba sê die saak het aandag getrek nadat verskeie verbruikers soortgelyke ervarings gerapporteer het:
# Cassava Technologies se uitvoerende hoof in Suid-Afrika en Botswana, Ziaad Suleman, sê Afrika kan nie agterweë bly met tegnologiese ontwikkeling en digitale infrastruktuur nie. Hy het tydens ‘n Bowmans-seminaar gevra vir meer datasentrums omdat die vasteland steeds afhanklik is van buitelandse infrastruktuur. Suleman sê die datasentrum-mark kan groei van 57,9-miljard-rand in 2024 tot 115-miljard-rand in 2030. Hy beklemtoon die behoefte aan ondersteunende regulasies om die potensiaal vir digitale ekonomie te ontsluit:
# Rugby: Harde werk lê voor vir die verdedigende kampioene, die Pumas, wanneer hulle Saterdag teen hul aartsvyande, die Griekwas, in die eindstryd van die SA-beker in Kimberley te staan kom. Vorige veldtogte het bewys daar is min verskille tussen die twee spanne maar ‘n tuisveldwedstryd hou besliste voordele vir die Griekwas in. Die Pumas het die Griekwas se onoorwonne status in Mpumalanga beëindig met ‘n oorwinning van 39-35 tydens die rondomtalie-fase en daarmee die eerste plek opdie punteleer ingeneem. Die afskop is om 6.30 Saterdagmiddag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-264-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-503-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 104-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….