Nuus 17:00
BULLETIN 3 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA sê die staatsondernemings se rade moet aanspreeklik bly
# Feroz Khan se regsverteenwoordigers oorweeg regstappe
# En tennis: Carlos Alcaraz beplan om meer te rus om verdere ernstige beserings te voorkom
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê staatsondernemings se rade moet onafhanklik wees, maar steeds aanspreeklik gehou word vir hul besluite. Nuwe navorsing toon ‘n behoefte aan aanstellings op grond van meriete, onafhanklike prestasie-evaluerings, sterker parlementêre toesig en gevolge vir swak bestuur. OUTA se woordvoerder Robyn Pasensie sê vaste vergoeding kan help om raadslede se onafhanklikheid te beskerm, maar aanspreeklikheid moet versterk word om swak bestuur en finansiële krisisse te voorkom:
# Die voormalige adjunkhoof van Misdaadintelligensie, generaal-majoor Feroz Khan se regspan dink daaraan om sy ontslag in die hof te betwis. Hulle voer aan die proses was onreëlmatig en onbillik. Khan is afgedank nadat hy versuim het om ‘n interne dissiplinêre verhoor by te woon terwyl daar ernstige bewerings teen hom was. Sy aansoek om die afdanking te stop, is hierdie week in die Arbeidshof geweier. Sy regsverteenwoordigers sê sy gesondheidstoestand moes behoorlik in ag geneem gewees het. Die polisie hou egter vol dissiplinêre reëls is op alle lede van toepassing, ongeag hul rang of posisie.
# Die Stad Kaapstad moedig inwoners aan om kommentaar te lewer op die Omvattende Geïntegreerde Vervoerplan wat leiding gee aan prioriteite en aktiwiteite van die Direktoraat vir Stedelike Mobiliteit om ‘n geïntegreerde vervoerplan te skep. Die plan spreek die noodsaaklikheid aan om te bepaal wat die sentrale vervoerprobleme in die metro is, asook maniere hoe ruimtelike hersamestelling van woongebiede effektiwiteit en toeganklikheid kan verbeter. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Mobiliteit, Rob Quintas, sê die metro plaas mense in die middel van sy beplanning van vervoer:
# ‘n Digte rookwolk as gevolg van veldbrande in Indonesië versprei tans oor Suidoos-Asië terwyl ‘n sterk El Niño warmer en droër toestande veroorsaak. Miljoene mense in Indonesië, Maleisië en naburige lande is blootgestel aan moontlike gevaarlike lug. Byna 95-duisend hektaar grond in Indonesië het in Julie gebrand, terwyl owerhede duisende brandpunte opgespoor het. Die rook het reeds skoolsluitings veroorsaak en buiteluggeleenthede in dele van Maleisië is gekanselleer. Amptenare vrees die situasie kan vererger met El Niño wat hierdie maand sy hoogtepunt bereik.
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcaraz, wil langer rus tussen toernooie om ‘n herhaling te voorkom van die besering wat hom vier maande op die kantlyn gehou het. Die verdedigende kampioen is steeds op koers na ‘n derde Amerikaanse Ope-titel nadat hy die derde ronde gehaal het. Die 23-jarige Spanjaard sê dis onmoontlik om die huidige eise vol te hou. Hy sê die beheerliggaam, ATP, voeg net meer toernooie by, wat lei tot omtrent 40 uit 52 weke van die jaar op die baan, en baie spelers raak beseer of moeg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-498-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-488-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 98-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….