Nuus 17:00
BULLETIN 15 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die verkiesing sal waarskynlik verskille in perspektief verskerp
# Eskom herstel kragtoevoer na Sentraal-Karoo
# En, Krieket: Swak afskop vir Protea Vroue op die WACA
# President Cyril Ramaphosa sê die komende verkiesing sal waarskynlik verskille in perspektief verskerp. In sy reaksie op die staatsrededebat neem hy kennis van die skerp kontraste in die voortslepende tweedaagse debat oor die nasie se geskiedenis. Ramaphosa voer aan, die verskille in perspektief is vererger in die aanloop tot die komende verkiesing, waarvan die datum nog nie aangekondig is nie. Hy sê, daar was positiewe transformasie in die lewens van miljoene burgers die afgelope drie dekades, in weerwil van politieke verdeeldheid:
# Eskom het bevestig die kragtoevoer na dorpe en omliggende gebiede in die Sentrale Karoo is ten volle herstel. Die gebied was sedert die derde van hierdie maand sonder krag nadat ‘n storm die ineenstorting van kritieke infrastruktuur veroorsaak het. Kliënte in dorpe soos Sutherland, Laingsburg, Ladismith, Leeu-Gamka, Merweville, Matjiesfontein en Prins Albert is geraak. Eskom sê spanne het onverpoosd gewerk om die netwerk weer aan te kry, met die eerste van sewe substasies wat sedert vroegoggend werkend is. Kliënte in die gebiede wat geraak is sal tot volgende Maandag vrygestel word van beurtkrag.
# Die EFF se leier, Julius Malema, veroordeel die ontplooiing van Suid-Afrikaanse Nasionale Weermaglede na die Demokratiese Republiek van die Kongo. Hy sê soldate is gedemoraliseer, en daar is ‘n gebrek aan opleiding en hulpbronne in die SANW. Mandela het reageer op die dood van twee soldate, terwyl drie gewond is in ‘n mortieraanval in Goma. President Cyril Ramaphosa het die ontplooiing van twee-duisend-900 soldate gemagtig om M23-rebelle te help beveg. Malema het op ‘n nuuskonferensie die onmiddellike onttrekking van die soldate geëis:
# Die plaaslike polisie en die FBI het inligting gevra oor gister se skietery tydens die Super Bowl-oorwinningsparade in Kansas City. ‘n Plaaslike omroeper, Lisa Lopez-Galvan, is dood en haar seun en nog meer as 20 mense gewond toe skote afgevuur is tydens die Kansas City Chiefs se vierings. Die FBI het ‘n webwerf opgerig en mense met video’s van die voorval gevra om dit daar te plaas. Drie mense is in hegtenis geneem, terwyl die owerhede die voorval nie beskou as terreurverwant nie.
# Krieket: Die Protea-vroue het ‘n slegte dag beleef aan die begin van die eenmalige toets teen Australië op die WACA in Perth. Die besoekers is vir ’n skamele 76 uitgeboul nadat die gasvroue se kaptein, Alyssa Healy, die loot gewen en hulle ingestuur het om te kolf. Suné Luus se 26 was die hoogste telling. Healy het ook ‘n pynlike oomblik beleef toe sy haar eerste toets-hondertal net-net misgeloop het en vir 99 uitgehaal is. Australië het teen uitskeityd op 251 vir vyf gestaan – ‘n voorsprong van 175 lopies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-189-dollar-84-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-een-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-45 sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….