Nuus 17:00
BULLETIN 20 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Versekeringskoste styg na die verhoging van mediese fonds-premies
# Solidariteit verwelkom Denel se salarisverhoging vir werknemers
# En, Sokker: Bafana is teen Kenia geloot in die Afrikabeker-kwalifiseerders
# Statistieke Suid-Afrika sê die versekeringsindeks het in April met 1,3-persent gestyg. Die hoofdirekteur vir Prysstatistieke, Patrick Kelly, sê die toename is hoofsaaklik gedryf deur hoër gesondheidsversekeringskoste. Hy sê wanneer mediese fondse hul jaarlikse premies aanpas, skep dit ‘n merkbare kettingreaksie oor die breër Verbruikersprysindeks. Hy sê die aanpassings was die grootste bydraer tot die algehele styging in die versekeringsprysindeks:
# Solidariteit verwelkom Denel se nuwe salarisooreenkoms wat werknemers ‘n salarisverhoging van 5,5-persent bied, terugwerkend tot April vanjaar. Die vakbond glo die ooreenkoms erken werkers wat getrou gebly het ondanks jare van onsekerheid in die staatsbeheerde onderneming. Solidariteit is versigtig optimisties oor die wapenvervaardiger se toekoms en moontlike nuwe beleggingsbelang. Derek Mans van Solidariteit sê meer werk is nodig om die onderneming bestendig te kry en langdurige uitdagings aan te pak:
# Die DA sê die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het die sperdatum misgeloop om duidelikheid te gee oor leefstyloudits vir polisielede. Geen vorderingsverslae of dokumentasie is teen gister se sperdatum gegee nie, ondanks vroeëre beloftes dat die proses begin het. Lisa Schickerling van die DA sê oudits is noodsaaklik om openbare vertroue te herstel te middel van beweerde korrupsie en onverklaarbare rykdom onder senior polisie-offisiere:
# Litaue se president en eerste minister is gedwing om skuiling te neem toe ‘n waarskuwing oor ‘n hommeltuigaanval die hoofstad Vilnius tot stilstand gebring het. Die twee leiers is na noodskuilings geneem nadat die stad se bevolking beveel is om te skuil. ‘n Ontruimingsbevel is ook in die Parlement uitgereik, met politici en personeel wat na ‘n kelderskuiling geneem is. Dit was die jongste in ‘n reeks hommeltuigaanvalle op NAVO-lidlande. Oekraïne het Rusland vroeër daarvan beskuldig dat hy hommeltuie elektronies blokkeer om teikens in Letland en Estland te tref.
Sokker: Bafana Bafana is saam met Kenia, Guinee en Eritreë in Groep D geloot vir die kwalifiseerders vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi. Die loting is in Egipte gedoen vir die toernooi wat deur Kenia, Tanzanië en Uganda aangebied sal word. Suid-Afrika sal sy veldtog tydens die internasionale gleuf in September en Oktober begin. Bafana se afrigter, Hugo Broos, sal te staan kom teen Suid-Afrika se voorste doelskieter van alle tye, Benni McCarthy, wat nou Kenia se breier is. Slegs die topspanne sal plekke beklink vir die toernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-494-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-500-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 105-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….