Nuus 17:00
BULLETIN 11 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Wes-Kaapse leerders bly tuis met skole wat weens stormweer sluit
# Die Valke waarsku by die Madlanga-kommissie dat die vraag-en-aanbod-dwelmhandel in Gauteng floreer
# En rugby, die Bulle bekom die dienste van ervare spelers Curwin Bosch en Hanro Liebenberg
# Alle openbare en spesiale skole in die Wes-Kaap sal môre gesluit wees aangesien gure weer die streek steeds teister. Meer as 227 skole het teen vanmiddag reeds aansoek gedoen om te sluit en verskeie skole het stormverwante skade aangemeld. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê die situasie sal noukeurig gemonitor word, met skole wat na verwagting Woensdag sal heropen indien toestande verbeter:
Intussen is bedrywighede by verskeie rybewys-toetssentrums ontwrig weens sterk wind, oorstromings en netwerkprobleme in Kaapstad. Sentrums wat geraak is sluit in, Goodwood, Somerset-Wes, Atlantis, Durbanville, Brackenfell, Kuilsrivier, Lingelethu-Wes, Joe Gqabi, Milnerton en Hillstar. Die woordvoerder Kevin Jacobs sê toetse by Elsiesrivier en Vishoek is uitgestel en toetse by Gallows Hill is tydelik vertraag weens ‘n ontwortelde boom. Hy sê hul sal kandidate herskeduleer:
Die bevelvoerder van die Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaad-eenheid vir die Wes-Rand, Francois Steyn, het aan die Madlanga-kommissie onthul die dwelmkrisis in Gauteng word steeds deur vraag en aanbod gedryf. Die kommissie ondersoek hoe gekonfiskeerde dwelms hanteer en na bewering gesteel is terwyl dit onder die sorg van wetstoepassing was. Hy sê ten spyte daarvan dat die polisie dwelms gekonfiskeer het, het pryse op straat onveranderd gebly. Hy sê dit beklemtoon die omvang van onwettige dwelmbedrywighede wat tot diefstal en geweldsmisdaad lei:
# ‘n Amerikaner en ‘n Franse burger het positief getoets vir die hanta-virus nadat hulle huis toe is nadat hulle die luukse passiersboot verlaat het wat deur ‘n dodelike uitbreking getref is. Die Amerikaanse Gesondheidsdepartement sê ‘n tweede Amerikaner op die repatriasievlug het ook ligte simptome getoon. Franse owerhede sê ‘n vrou is in isolasie in Parys en haar gesondheid het versleg, met 22 kontakgevalle wat opgespoor is. Drie passasiers is dood nadat hulle op die MV Hondius gereis het. Die virus is bevestig by twee van hulle.
# Rugby: Die voormalige Springbok-losskakel Curwin Bosch gaan in Julie by die Bulle aansluit. Hy het ‘n kontrak van drie jaar gesluit na hy voorheen vir die Haaie gespeel het voor hy in 2024 na Brive in Frankryk verhuis het. Die Bulle het ook die verkryging van verskeie ander spelers bevestig, insluitend twee ander Haaie, die vleuel Thaakir Abrahaims en die opkomende ster-agterspeler Hakeem Kunene, en die Griekwa-vleuel Dylan Maart. Die Bulle se uitvoerende hoof, Edgar Rathbone, sê die voormalige Junior-bok kaptein Hanro Liebenberg gaan ook na Pretoria verhuis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-173-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-705-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 101-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir nog nuus……………….