Nuus 17:00
BULLETIN 2 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa se prokureur verwerp bewerings dat hy aanspreeklikheid ontduik
# Die Verkiesingskommissie sê 546 politieke partye gaan aan die plaaslike regeringsverkiesing deelneem
# En, die verdagte in die Charlie Kirk-moordsaak pleit onskuldig
# President Cyril Ramaphosa se prokureur, Wim Trengove, sê die onafhanklike artikel 89-panel het nie behoorlik oorweeg of die president doelbewus of te kwader trou opgetree het oor die Phala Phala-diefstal nie. Trengove het aan die Wes-Kaapse Hooggeregshof gesê die paneel het die verkeerde regsvrae gevra en nie al die bewyse behoorlik beoordeel nie, insluitend Ramaphosa se weergawe dat hy te goeder trou opgetree het:
# Die Verkiesingskommissie sê 546 politieke partye sal op 4 November aan die plaaslike regeringsverkiesing deelneem, wat 75-persent van alle geregistreerde partye verteenwoordig. Twee-honderd-27 nasionale partye, 33 provinsiale partye, 49 metropolitaanse partye en 237 distriksvlakpartye het kandidate benoem. Die OVK se voorsitter, Mosotho Moepya, het op ‘n nuuskonferensie gesê die hoë vlak van politieke deelname weerspieël sterk belangstelling in die komende verkiesing:
# Die Vereniging van Staatsamptenare doen ‘n beroep op die regering om dringend maatreëls in te stel wat Suid-Afrikaners teen vandeesmaand se skerp styging in brandstofpryse kan beskerm. Albei grade petrol het met een-rand-34-sent per liter gestyg terwyl diesel tussen twee-rand-93-sent en drie-rand-15-sent per liter meer kos. Die vakbond-woordvoerder, Claude Naicker, sê dringende maatreëls, soos onmiddellike belastingverligting en strukturele langtermyn-veranderinge aan brandstofpryse, moet ingestel word. Hy sê die regering moet vinnig sorg vir bekostigbare en betroubare openbare vervoer:
# Die man wat daarvan beskuldig word dat hy die Amerikaanse konserwatiewe aktivis Charlie Kirk vermoor het, pleit onskuldig op aanklagte van moord met verswarende omstandighede en nog ses aanklagte. ‘n Regter in Utah het beslis aanklaers kan die doodstraf eis indien Tyler Robinson skuldig bevind word. Aanklaers het getuienis voorgelê wat volgens hulle bewys die 23-jarige was betrokke by die skietery tydens ‘n universiteitsgeleentheid verlede September. Prokureurs vir die verdediging voer aan die saak voldoen nie aan die wettige vereistes vir die doodstraf nie. ‘n Verhoordatum is nog nie vasgestel nie.
# Gholf: Tiger Woods, die wenner van 15 major-toernooie, moet vandag in ‘n hof in Florida verskyn en sal volgens berigte nie meer onskuldig pleit in sy saak van bestuur onder die invloed nie. Die 50-jarige is in Maart in hegtenis geneem nadat hy met sy Land Rover in Florida ‘n ongeluk gemaak het. Hy het ‘n asemtoets geslaag, maar ‘n urinetoets geweier. Woods het aanvanklik onskuldig gepleit op aanklagte van bestuur onder die invloed en skade aan eiendom, asook die weiering van ‘n regmatige toets.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-10-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-583-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-331-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 96-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….