Nuus 17:00
BULLETIN 29 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Bellarmine Mugabe se neef, Tobia Matonhodze, word tot drie jaar tronkstraf gevonnis vir ‘n skietvoorval in Hydepark
# FOSA veroordeel die regering se verlenging van die brandstofverligting en beskryf dit as ‘n misleidende en onsuksesvolle ingryping
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, spoor Iran aan om ooreenkoms te onderteken ná ’n berig dat Amerikaanse versperring verleng kan word
# Die neef van die voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe se seun, Bellarmine, is drie jaar gevangenisstraf opgelê in die Alexandra-landdroshof in Johannesburg. Tobia Matonhodze het vroeër skuld erken op verskeie aanklagte na ‘n skietvoorval by hul huis in Hydepark. Mugabe is beboet en sal onmiddellik gedeporteer word. Landdros Renier Boshoff sê daar was versagtende omstandighede vir Matonhodze. Hy sal ook gedeporteer word nadat hy sy vonnis uitgedien het:
# Forum for South Africa veroordeel wat hy noem die regering se sogenaamde verlenging van die brandstofheffing-verligting teen drie-rand vir volgende maand. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, beskryf dit as ‘n misleidende, onvoldoende en polities-gerieflike gebaar wat nie die werklike krisis die hoof bied waarmee Suid-Afrikaners te kampe het nie. Hy sê wat voorgehou word as verligting, is slegs ‘n tydelike en leë gebaar:
# Die Departement van Basiese Onderwys het te midde van kommer oor verkrygingsonreëlmatighede verduidelik sy handboek-siftingsproses is nie ‘n tenderstelsel nie. Beamptes sê die proses gebruik blinde sifting, waartydens manuskripte sonder uitgewerbesonderhede beoordeel word om regverdigheid en gehalte te verseker. Die departement se woordvoerder, Terence Khala, sê meer as 150 vakkundiges evalueer voorleggings teen kurrikulumstandaarde en slegs die bestes word gekies, met die prys wat laaste in ag geneem word:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Iran aangemoedig om ’n ooreenkoms te onderteken ná dae van ’n dooiepunt in pogings om die konflik te beëindig, terwyl berig word dat Amerika sy versperring van Iranse hawens kan verleng. Wall Street Journal berig ‘n verlengde versperring is moontlik om Teheran te dwing om toe te gee. Iranse amptenare het vroeër gesê die land kan die versperring weerstaan en alternatiewe handelsroetes gebruik. Die konflik het reeds gelei tot die dood van duisende mense, onrus in die energiemarkte veroorsaak en globale handelsroetes ontwrig.
# Rugby: Die Walliese agterspeler George North beplan om na die huidige seisoen uit internasionale rugby te tree. Die 34-jarige het 47 drieë gedruk in 121 toetse vir Wallis oor 13 jaar en die unie gehelp om vier Sesnasies-titels en twee Grand Slams in te palm. Hy het ook drie toetse vir die Britse en Ierse Leeus gespeel tydens hulle toere van 2013 en 2017. North het die derde meeste toetse vir Wallis gespeel na Alun Wyn Jones en Gethin Jenkins, en die tweede meeste drieë gedruk na Shane Williams.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 22-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-103-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-546-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 107-dollar-53-sent per vat.
# Bly ingeskakel vir meer nuus……………