Nuus 17:00
BULLETIN 23 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige nasionale direkteur van Openbare Vervolging onttrek haar aan die Nkabinde-ondersoek
# ‘n Ondersoek bevind meer as 500 mense is dood in verkiesingsgeweld in Tanzanië
# En rugby: Net nog 16-duisend-500 ondersteuners is op Kaapstad-stadion nodig om ‘n VRK-bywoningsrekord te verbeter
# Die voormalige Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, het haar aan die Nkabinde-ondersoek onttrek. Sy het vandag ‘n verklaring by die kommissie ingedien waarin sy sê dat sy nie haar getuienis sal voortsit nie, nadat die paneel haar versoek om haar regspan te raadpleeg, geweier het. Die ondersoek kyk na die geskorste Suid-Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, se rol in sake wat verband hou met die Cato Manor Georganiseerde Misdaadeenheid, en besluite rakende Richard Mdluli. Batohi se weiering volg nadat vandag se verrigtinge deur ‘n elektriese fout vertraag is.
# Die ANC het stappe gedoen om streng interne dissipline af te dwing voor die plaaslike regeringsverkiesing. Alle lede, insluitend diegene met dubbele lidmaatskap van die SAKP, is opdrag gegee om te verklaar of hulle vir die ANC sal veldtog voer, en waarsku enige optrede wat die verkiesingspogings ondermyn, sal gevolge hê. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula het aan die media gesê die party se grondwet verplig lede om ANC-kandidate te ondersteun:
Nuus uit die buiteland:
# Vyf-honderd-en-18 mense is aan onnatuurlike oorsake dood tydens wydverspreide betogings in Tanzanië na verlede jaar se algemene verkiesing. Die voorsitter van die kommissie van ondersoek, Mohamed Chande Othman, het egter nie gesê wie verantwoordelik is vir die sterftes nie en het verdere ondersoeke aanbeveel. Opposisiepartye en menseregtegroepe het die veiligheidsmagte beskuldig van die wrede onderdrukking van anti-regeringsbetogings. President Samia Suluhu Hassan is tot wenner verklaar met 98-persent van die steun na die verkiesing op 29 Oktober, wat die opposisie as ‘n bespotting van demokrasie beskryf het.
# Rugby: Stormers-ondersteuners staan op die punt om Saterdag op die Kaapstad-stadion ‘n bywoningsrekord vir ‘n gereelde seisoen van die Verenigde Rugbykampioenskap te verbeter, met slegs 16-duisend-500 kaartjies wat nog verkoop moet word om die mylpaal te bereik. ‘n Oorwinning vir die Stormers oor Glasgow Warriors sal hul veldtog ‘n groot hupstoot gee. Indien die Kapenaars vyf punte kry en die besoekers geen punte aanteken nie, sal die Stormers eerste op die punteleer wees, met twee rondes oor voor die uitspeelwedstryde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-807-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-727-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-60-sent per vat.
# En laastens, die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, verwelkom die uitreiking van toekenningsbriewe vir die uitgestelde Sarah Baartman-sentrum van herinnering in Hankey in die Oos-Kaap. Die projek, wat vir meer as ‘n dekade vertraag is, sal nou vorder na die finale voldoenings- en kontraktuele stadiums voordat bouwerk hervat word. Macpherson sê die mylpaal weerspieël verbeterde bestuur en verkryging. Hy sê die sentrum sal Sarah Baartman vereer, wie se verhaal as die toonbeeld van rassistiese koloniale uitbuiting beskryf is, terwyl dit plaaslike toerisme en ekonomiese ontwikkeling sal bevorder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….