Nuus 17:00
BULLETIN 21 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gareth Mnisi verdedig sy vertolking van Fannie Nkosi se “groei”- boodskap
# Solidariteit steun werkers in die stryd oor die rooiseël-sertifiseringstelsel
# En, die beskuldigde in die Emmarentia-skietvoorval word vrygelaat terwyl die ondersoek voortduur
# Tshwane se finansiële hoof, Gareth Mnisi, het sy vertolking van ‘n boodskap van die geskorste polisie-sersant Fannie Nkosi voor die Madlanga-kommissie verdedig. Kommissaris Sesi Baloyi het ‘n teks wat lui “wanneer jy groei, groei ek ook” bevraagteken, wat dui op ‘n gedeelde sakebelang. Mnisi het volgehou dat hy dit as vriendskap en wedersydse ondersteuning verstaan het. Baloyi het dit betwis en aangedring dit dui op ‘n dieper of onbehoorlike verhouding:
# Solidariteit het aangesluit by die voortdurende stryd rondom die rooiseël-sertifikaat vir vakmanne, en steun werkers wat aanvoer die stelsel is onregverdig en beperkend. Die sertifisering is die amptelike nasionale kwalifikasie vir ambagslui. Stef Pretorius van Solidariteit sê die sertifiseringsproses skep hindernisse in die geskoolde ambagsektor en moet dringend hersien word. Pretorius sê werkers wat geraak is maak geen vordering nie, ondanks jare se ondervinding. Hy sê die stap versterk die breër debat oor kwalifikasies, erkenning van vaardighede en toegang tot werksgeleenthede:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het besluit om die man wat daarvan beskuldig word dat hy Faisal Rehman in ‘n padwoede-voorval in Emmarentia, Johannesburg, doodgeskiet het, nie te vervolg nie, hangende verdere ondersoeke. Die man is aangekla van die moord op Rehman en poging tot moord op sy vrou, Tehseen, tydens ‘n skietery ná ‘n ligte botsing oor die naweek. Magaboke Mohlatlole van die NVG sê die besluit volg op ‘n hersiening van bewyse, insluitend bewerings dat die verdagte uit selfverdediging opgetree het.
# Bykans agt-duisend mense het verlede jaar op migrasieroetes gesterf of verdwyn, met seeroetes na Europa wat die dodelikste is en baie slagoffers en die vaartuie waarop hulle was, wat net spoorloos verdwyn het. Die Internasionale Organisasie vir Migrasie sê meer as vier uit elke 10 sterftes en verdwynings het op seeroetes na Europa plaasgevind. Die Wes-Afrikaanse roete noordwaarts is verantwoordelik vir een-duisend-200 sterftes, terwyl Asië ‘n rekordgetal sterftes aangemeld het, insluitend honderde Rohingya-vlugtelinge wat van geweld in Mianmar vlug. Die IOM-direkteur-generaal Amy Pope sê roetes verander in reaksie op konflik, klimaatsdruk en beleidsveranderinge, maar die risiko’s bly ‘n werklik.
# Krieket: Die Internasionale Liga T20 se uitvoerende hoof, David White, sê daar is geen planne om die aantal oorsese spelers in ‘n span te verminder nie. Die IL-T20, wat in die Verenigde Arabiese Emirate gebaseer is, laat tans tot nege buitelandse spelers toe, maar word gekritiseer omdat dit glo die internasionale krieketstelsel ontwrig. Die kompetisie bots regstreeks met ligas in Suid-Afrika, Australië en Bangladesj, asook die bilaterale internasionale krieketprogram. White sê hulle hoop die aantal plaaslike spelers in die liga sal toeneem wanneer plaaslike strukture verbeter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-4-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-778-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 91-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….