Nuus 17:00
BULLETIN 20 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu verwelkom die verhoging van die basiese diensvoorwaardes se jaarlikse inkomstedrempel
# Die geskorste hoof- finansiële beampte van Tshwane erken hy het tenderinligting met Fannie Nkosi gedeel
# En, die voorsitter van Wêreldrugby erken Amerika is ‘n uitdagende mark voor die 2031-Wêreldbeker
# Die vakverbond Cosatu verwelkom vanjaar se verhoging in die basiese indiensnemingsvoorwaardes se jaarlikse inkomstedrempel. Van volgende maand is die nuwe drempel vir jaarlikse inkomste 269-duisend-601-rand, uitsluitend sekere aftrekkings en bydraes van werkgewers. Matthew Parks van Cosatu sê belangrike arbeidsregte, beskerming en voordele wat met die drempel verband hou, sluit in die reg op oortydbetaling en outomatiese toegang tot die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie:
# Die geskorste hoof- finansiële beampte van Tshwane, Gareth Mnisi, het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het inligting oor tenderprosesse met die geskorste SAPD-sersant Fannie Nkosi gedeel, maar hou vol dit was nie vertroulik nie. Kommissaris Sandile Khumalo het sy uitspraak betwis en aangevoer die boodskappe bevat sensitiewe munisipale inligting, wat vrae laat ontstaan het oor verkrygingsintegriteit- en toesig. Mnisi het erken hy het inligting gestuur oor aankope en betalings wat met fakture van miljoene-rand verband hou:
# Die burgemeester van Ekurhuleni, Nkosindiphile Xhakaza, het die hoof van die Metro se Departement vir Strategie en Korporatiewe Beplanning, Tsholofelo Koopedi, as die waarnemende stadsbestuurder aangestel ná die arrestasie van Kagiso Lerutla op die OR Tambo Internasionale Lughawe. Hy sal saam met die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, wat ook die naweek in hegtenis geneem is, in die hof verskyn. Hulle word aangekla van bedrog, korrupsie en geregtigheidsverwante aanklagte wat verband hou met getuienis voor die Madlanga-kommissie. Die burgemeester sê Koopedi sal intussen volle administratiewe pligte oorneem.
# Israel het inwoners van Suid-Libanon beveel om weg te bly uit ‘n gebied langs die grens loop, en die gebied naby die Litani-rivier te vermy. Die waarskuwing versterk Israel se greep oor Suid-Libanon ten spyte van ‘n wapenstilstand in die oorlog met Hezbollah. Die 10-dae-wapenstilstand wat deur die VSA bemiddel is het Donderdag in werking getree en die konflik tussen Israel en die Iran-ondersteunde Hezbollah grootliks tot stilstand gebring, maar dit bly broos. Inwoners in die Hezbollah-beheerde suidelike voorstede van Beiroet is gewaarsku om nog nie na hul huise terug te keer nie weens die risiko van Israeliese aanvalle.
# Rugby: Die voorsitter van Wêreldrugby, Brett Robinson, erken dat Amerika ‘n uitdagende mark is voor 2031 se Wêreldbekertoernooi vir mans en die vrouetoernooi in 2033. Daar is glo vrae oor hoe Amerika die toernooie op ‘n handelsvlak gaan aanbied, gegewe die stand van die sport in daardie land. Die Springbokke en die All Blacks gaan in September vanjaar ‘n toets in Baltimore speel as deel van pogings om opwinding vir 2031 te wek. Robinson sê dit gaan alles oor die bou van momentum en verbintenis met die ondersteuners.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-241-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-806-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 91-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….