Nuus 17:00
BULLETIN 13 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Matipandile Sotheni se borgtogaansoek in die Getuie D‑moordsaak word uitgestel terwyl ‘n nuwe regspan aangestel word
# Twee SAOG-lidstate het van die hoogste brandstofpryse ter wêreld
# En, minister Sisisi Tolashe is bekommerd oor die voortslepende geslagsgeweldkrisis
# Die Landdroshof in Brakpan het ‘n voormalige lid van die polisie se Spesiale Taakmag, Matipandile Sotheni, se borgtogaansoek uitgestel tot volgende Vrydag. Hy word aangekla van die moord op ‘n getuie voor die Madlanga-kommissie, Marius van der Merwe, bekend as Getuie D. Sotheni en sy nuwe regsverteenwoordiger, Nthabiseng Mohomane, het verskyn nadat sy vorige prokureur, Eric Bryer, onttrek het. Sotheni staan tereg op aanklagte van moord, sameswering en poging tot moord nadat Van der Merwe in Desember voor sy huis in Brakpan doodgeskiet is.
# ‘n Verslag van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap toon dat twee van sy lede nou van die wêreld se hoogste brandstofpryse het, na skerp stygings wat verband hou met die oorlog tussen Amerika en Israel teen Iran. Malawi en Zimbabwe is boaan die streeklys, terwyl Angola steeds van die wêreld se goedkoopste brandstof het. In Suid-Afrika bly petrolpryse effens onder die wêreldgemiddelde, maar dieselkoste is hoër. Stygende oliepryse en markdruk beïnvloed brandstofkoste steeds reg oor die streek.
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, sê die verkragting van ‘n 12-jarige meisie in Dobsonville, Wes-Soweto, is ʼn skrikwekkende weerspieëling van Suid-Afrika voortslepende geslagsgeweld-krisis. Die 58-jarige man wat die kind na bewering aangerand het, is gearresteer. Die departement se woordvoerder, Sandy Godlwana, sê die wetgewende mandaat is om altyd die regte en welstand van kinders te beskerm:
# Tennis: Carlos Alcaraz keer terug na sy vaderland, Spanje, vir dié week se Barcelona-ope nadat hy gister in Monte-Carlo sy voorste plek op die wêreldranglys aan sy grootste teenstander Jannik Sinner afgestaan het. Die Italianer het die Meesterstoernooi die eerste keer gewen. Sinner speel nie in Barcelona nie, maar gaan na verwagting deelneem aan die Madridse Ope, ook in Spanje, en aan sy tuis-toernooi in Rome in die aanloop tot die kleibaan-Grand Slam, die Franse Ope, wat die 24ste van volgende maand in Parys begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-225-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-730-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 98-dollar-52-sent per vat.
# En ten slotte, Britney Spears is in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem, ’n maand nadat sy op 4 Maart in hegtenis geneem is vir vermoedelike bestuur onder die invloed van alkohol en dwelms. Die sangeres het haarself vrywillig vir behandeling aangemeld. Dit kom drie weke voordat die 44-jarige in die hof in Kalifornië moet verskyn op die aanklag van bestuur onder die invloed. Spears is een van die suksesvolste popsterre van alle tye. Sy was tot 2021 vir 13 jaar onder kuratorskap met haar finansies en persoonlike lewe wat deur haar pa beheer is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….