Nuus 17:00
BULLETIN 10 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC stel ‘n nuwe verkiesingsproses vir burgemeesters-kandidate bekend
# RISE Mzanzi verwelkom die belofte van meer as 200-miljard-rand op die Gautengse Beleggingskonferensie
# En, die N3 naby Harrismith is heropen nadat vragmotors die pad versper het
# Die ANC het sy verkiesingsproses vir burgemeesterskandidate amptelik bekend gestel, met ‘n gesentraliseerde stelsel gegrond op bevoegdhede om leierskap in sleutel-munisipaliteite te identifiseer. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê die nuwe benadering sal bestuur, dissipline en volhoubaarheid versterk. Die proses sluit die identifisering en opsporing van gekwalifiseerde kandidate in onder openbare verteenwoordigers, beroepslui en gemeenskapsleiers. Mbalula beklemtoon daar sal openlike openbare voorleggings wees oor voorgestelde kandidate om openbare vertroue te herbou:
# RISE Mzansi het sy nasionale voorsitter en Gautengse LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Landbou en Landelike Ontwikkeling, Vuyiswa Ramokgopa, geprys oor die sukses van die Gautengse Beleggingskonferensie. Die party sê meer as 200-miljard-rand se beloftes dui op hernude beleggersvertroue en werkskeppings-moontlikhede. Woordvoerder Makashule Gana sê by die fokus moet nou verskuif na die instelling daarvan, en glo sterk leierskap en vennootskappe sal help om Gauteng ‘n toonaangewende ekonomiese spilpunt te maak:
# Die N3 naby die Harrismith-noord-wisselaar in die Vrystaat is heropen nadat verskeie vragmotors die pad versper het. Owerhede sê alle bane in beide rigtings is nou oop, maar motoriste moet voortgesette vertragings verwag tot die bestaande opeenhopings opgeklaar het. Die N3 Tolkonsessie se hoofbedryfsbeampte, Thania Dhoogra, vra padgebruikers om versigtig te wees en geduldig te bly. Die Padverkeersbestuurskorporasie sê dit kan etlike ure duur voor die gewone verkeersvloei herstel.
# Die Tanzaniese musikant, Sefu Shabani, beter bekend as Matonya, is in Kenia in hegtenis geneem en aangekla van verkragting. Die 43-jarige het die aanklag ontken toe hy in die hof in Mombasa verskyn het. Volgens Kenia se Direkteur van Openbare Vervolging is hy borgtog toegestaan en beveel om sy Tanzaniese paspoort in te handig. Die bekroonde kunstenaar is geliefd vir sy “bongo flava”-treffers. Hy het sowat 15 jaar gelede bekendheid verwerf en tree steeds regoor Oos-Afrika op. Die beweerde seksuele aanranding het Dinsdag in ‘n woonstel in die strandoord Nyali plaasgevind.
# Rugby: SA Rugby sê daar is bemoedigende vroeë tekens na die instelling van die reëls oor laer duikslae. Vier-en-sewentig persent van kopbeserings kom van duikslae. SA Rugby se Mediese hoofbestuurder, Clint Readhead, sê aanvanklike data toon ‘n positiewe verskuiwing in die vermindering van katastrofiese duikslagverwante kop-, nek- en ruggraatbeserings. Hy sê dis opmerklik dat daar ‘n afname is in permanente of lewensveranderende beserings onder verdedigers sowel as baldraers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-217-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-772-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 92-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….