Nuus 17:00
BULLETIN 8 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fosa eis ‘n ondersoek na die wyer misdaadnetwerk wat met Fannie Nkosi verbind word
# Brent Bozell wys die voortdurende beleggingshindernisse uit tussen Amerika en Suid-Afrika
# En, die brand in die Du Toitskloofpas is grotendeels onder beheer
# Forum for South Africa vra ‘n omvattende ondersoek na die wyer misdaadnetwerk verbind met die polisiesersant Fannie Nkosi van die Gautengse Georganiseerde Misdaadeenheid. Hy is van talle oortredings aangekla nadat die polisie verlede week op sy huis toegeslaan en versteekte vuurwapens, kontant en ses polisiedossiere ontdek het. Fosa se leier, Tebogo Mashilompane, sê Nkosi se inhegtenisneming moet beskou word as die begin van die blootlegging van ‘n baie wyer korrupsienetwerk:
# Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika, Brent Bozell, sê sy land is gereed om miljarde rand se beleggings te bring, maar daar is steeds belangrike uitdagings. Hy het in Pretoria gesê hy is bekommerd oor privaat eiendomsregte en eienaarskapsvereistes vir buitelandse ondernemings, wat groot beleggers kan afskrik. Bozell erken Suid-Afrika se unieke geskiedenis en sê Amerikaanse ondernemings het ‘n etiese plig om in die land se toekoms te belê:
# Die brandweerdiens van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sê ‘n groot gedeelte van die veldbrand in die Du Toitskloofpas is onder beheer. Die brand, wat in bergagtige terrein bokant Trout Farm naby die ou tonnel woed, is heeltemal onder beheer aan Worcester se kant. Jo‑Anne Otto van die munisipaliteit sê brandbestryders is tans besig met opruimingswerk en die gebied word noukeurig gemonitor:
# Die Beregter vir Pensioenfondse het aftreefondse en administrateurs gewaarsku om op lede se klagtes te reageer of regstappe te verwag. Beregter Lebogang Mogashoa sê baie fondse ignoreer ondersoeke of is stadig om te reageer. Hy het nou Artikel 30‑J van die Wet op Pensioenfondse ingeroep, wat dagvaardings en dagvaardingstukke toelaat. Die versuim om te voldoen, kan dus tot strafregtelike aanklagte lei. Mogashoa is bekommerd oor die groot aantal klagtes wat verband hou met onbetaalde pensioenbydraes, vertragings met sterftevoordeel-uitbetalings en belangebotsings.
# Rugby: Die jong Australiese stut Massimo de Lutiis het besluit om nog drie jaar in sy geboorteland te speel na aanbiedinge deur Ierland en Ulster. Hy kwalifiseer om vir Ierland te speel omdat sy ma daar gebore is. Die 22-jarige De Lutiis, wat Superrugby vir die Reds speel, is twee keer na die Wallabies-kamp genooi, maar het albei kere weens beserings misgeloop. Hy wil vir Australië speel in volgende jaar se Wêreldbeker tuis, terwyl Rugby Australië se prestasie-direkteur, Peter Horne, sy besluit as ‘n groot wins beskryf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-098-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-799-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 89-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….