Nuus 17:00
BULLETIN 12 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA wen die Konstitusionele Hofsaak rakende die openbaarmaking van die ANC se kaderontplooiing-rekords
# Kommer oor die moontlike uitkomste van vanjaar se verkiesing
# En, Solidariteit sê Suid-Afrikaanse banke ervaar ‘n oplewing in mededingendheid en deursigtigheid
# Die DA het tevredenheid uitgespreek met die Konstitusionele Hof se uitspraak in hul guns, rakende die openbaarmaking van die ANC se kaderontplooiing-rekords. Die hof het die ANC beveel om sy volledige kaderontplooiing-rekords, insluitend vergaderingsnotules, CV’s, e-posboodskappe en WhatsApps bekend te maak, terugwerkend tot 1 Januarie 2013. Die DA se nasionale woordvoerder oor die Staatsdiens en Administrasie, Leon Schreiber, sê die ANC het vyf werksdae om alle relevante dokumente te oorhandig:
# Die privaat welvaartbestuurder, Allan Gray, het kommer uitgespreek oor die moontlike uitkomste van vanjaar se verkiesing. News24 berig die privaat sektor is veral onrustig oor die vooruitsig van ‘n koalisieregering, veral een wat nasionalisering kan voorstaan. Die moontlikheid van ‘n alliansie tussen die EFF en die ANC is veral kommerwekkend. Die onderneming is bekommerd oor die potensiële ekonomiese onbestendigheid wat ‘n koalisieregering kan meebring. Allan Gray waarsku die land wankel reeds op die randjie van ‘n breekpunt.
# Eskom het ‘n daaglikse rotering tussen fase drie- en vier-beurtkrag aangekondig tot verdere kennisgewing. Hierdie patroon het ten doel om aandag te skenk aan die voortdurende uitdagings, en om bestendigheid in die kragnetwerk te herstel. Die nutsdiens het opwekkingseenhede herstel, wat ‘n tydelike blaaskans moontlik maak met fase drie-beurtkrag van 5-uur soggens tot 4-uur middae, gevolg deur fase vier elke dag. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, vra die publiek om aktief by te dra tot kragbesparing in hierdie uitdagende tye:
# Sokker: Die Premier Sokkerliga het alle Premierliga-wedstryde wat oorspronklik vir môre en Woensdag gereël is, herskeduleer om Bafana Bafana terug te verwelkom nadat hulle die bronsmedalje in die Afrikabeker-toernooi gewen het. Bafana het die Demokratiese Republiek van die Kongo se nasionale span, die Leopards, in die uitspeelwedstryd om derdeplek verslaan, terwyl die gasheer, Ivoorkus, Nigerië in die eindstryd geklop het. Die P-S-L sê die besluit toon erkenning en eensgesindheid met die nasionale span, wat Woensdag terugkeer. Ondersteuners word verseker nuwe wedstryddatums sal binnekort aangekondig word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 47-duisend-934-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-23-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-28-sent per vat.
# En, laastens: Die Vakbond Solidariteit sê Suid-Afrikaanse banke ervaar ‘n oplewing in mededingendheid en deursigtigheid. Solidariteit het ‘n verslag vrygestel wat uitsluitlik op bankkoste gefokus is, wat toon dat aanlynbanke soos Tyme-bank en Bank Zero optimale waarde bied. FNB staan uit vir basiese en middel-inkomsteprofiele, terwyl Nedbank se mi-goals-premie-rekening kostedoeltreffend is vir gesofistikeerde bankbehoeftes. Theuns du Buisson van Solidariteit sê in weerwil van talle ekonomiese uitdagings, dui die verslag op ‘n positiewe tendens van verhoogde mededingendheid in dié sektor:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….