Nuus 17:00
BULLETIN 1 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK vra vir kiesers-optrede voor die plaaslike regeringsverkiesing
# Coca-Cola beplan om 17,6-miljard-rand in Suid-Afrika te belê
# En, Gholf: Die vyftienmalige kampioen Tiger Woods sê hy tree tydelik uit die sport om behandeling te ontvang
# Die Verkiesingskommissie sê die veldtog in die aanloop tot vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing is ‘n oproep tot optrede. Die OVK het sy logo vir die verkiesing bekendgestel met die slagspreuk “Staan op, Daag op, Stem”. Die uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, sê voorbereiding word verskerp, insluitend ‘n landwye spesiale kieser-registrasienaweek op 20 en 21 Junie. Hy sê sowat 24-duisend stempunte sal geskep word, gesteun deur 70-duisend personeellede, om doeltreffende registrasie te verseker:
# Coca-Cola-het bekendgemaak hy is van plan om teen 2030, 17,6-miljard-rand in Suid-Afrika te belê. Die belegging sal groter produksie, verbeterde verspreiding en innovering van sy waardeketting ondersteun. Die aankondiging is gister tydens die Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie in Johannesburg gemaak, waar die onderneming ook sy rol in werkskepping en plaaslike verkryging beklemtoon het. Die stap sal na verwagting ekonomiese bedrywighede bevorder en Suid-Afrika se posisie in die internasionale mark versterk.
# Die Gautengse Provinsiale Wetgewer se Portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid wens alle inwoners ‘n veilige, vreedsame en geseënde Paasnaweek toe. Bandile Masuku van die komitee vra motoriste om verantwoordelik te bestuur, verkeersreëls te gehoorsaam en alkohol te vermy, terwyl wetstoepassing ‘n sigbare teenwoordigheid regoor die provinsie handhaaf. Hy voeg by inwoners word aangemoedig om die Paastydperk met eenheid, deernis en respek vir mekaar te vier:
# ‘n Russie olietenkskip met 730-duisend vate ru-olie het in Kuba aangekom en effense verligting gebring vir die eiland wat deur Amerika blokkeer word. Die Withuis se pers-sekretaris, Karoline Leavitt, beskryf die toestemming vir die vaartuig as ‘n besluit wat steeds per geval geneem sal word om humanitêre of ander redes. Kenners raam die versending kan sowat 180-duisend vate diesel oplewer, wat genoeg is vir nege tot tien dae.
# Gholf: Die vyftienmalige kampioen Tiger Woods sê hy tree tydelik uit die sport om behandeling te ontvang ná sy jongste motorongeluk in Florida. Die 50-jarige is verlede Vrydag in hegtenis geneem en aangekla van bestuur onder die invloed van ‘n middel nadat sy Land Rover naby sy huis met ‘n bakkie gebots en omgeslaan het. Hy het onskuldig gepleit. Woods sê in ‘n verklaring dit is nodig om tyd af te neem om aandag te skenk aan sy welsyn en om te probeer om finaal te herstel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-221-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-718-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 101-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….