Nuus 17:00
BULLETIN 27 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eugene de Kock onthul Cyril Ramaphosa was op ‘n sluipmoordlys
# Die ANC verwelkom die vordering met die uitskakeling van ladingvermindering
# En, die DA eis aanspreeklikheid na leefstyloudits by elf departemente
# Die voormalige apartheidspolisiebevelvoerder Eugene de Kock het in die Hooggeregshof in Gqeberha getuig president Cyril Ramaphosa was op ‘n lys van mense wat vir ‘n sluipmoord geteiken was. De Kock het virtueel getuig in die Cradock Vier-ondersoek en gesê hy is beveel om 33 individue te vermoor, maar het geweier om Ramaphosa dood te maak en aangedring hy is onskuldig. Hy het ook verduidelik hoe topbeamptes in die SAPD, nadat moorde gepleeg is, in die kerk ‘gereinig’ sou word:
# Die ANC het die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, se aankondiging verwelkom oor die vordering met die instelling van die program om ladingvermindering uit te skakel. Dié proses behels kragonderbrekings op sekere plekke wat sowat 1,69-miljoen kliënte oor 971 voerders raak. Minister Ramokgopa sê nagenoeg 199-duisend kliënte is van roosters vir ladingsvermindering verwyder. Dit is te danke aan ‘n kombinasie van slimmeters, die opgradering van infrastruktuur en die bestendiging van voerders. Die ANC sê hierdie pogings is deel van sy verbintenis om ‘n bekwame staat te skep wat betroubare dienste kan lewer.
# Die DA het kommer uitgespreek na elf departemente verwysings vir ondersoeke ontvang het, maar geen vorderingsverslae by die Departement van Staatsdiens en Administrasie ingedien het oor stappe wat gedoen is nie. Drie van die departemente is nasionaal en agt is provinsiaal. Eleanore Bouw-Spies van die DA sê die grootste oortreders moet na die Parlement ontbied word en rekenskap gee oor hulle versuim om ná die leefstyloudits gevolgebestuur in te stel:
# Die departement van Openbare Werke, Infrastruktuur en Menslike Nedersetting in die Oos-Kaap sê die Botha Sigcau-gebou in Mthatha is as onveilig verklaar. Verskeie provinsiale departemente het hul kantore in dié historiese gebou gehad, wat Dinsdagaand in ‘n brand vernietig is. Die woordvoerder van die departement, Siyabonga Mdodi, sê tegniese spanne wag nog dat die gebou afkoel voordat hulle met skadeberaming kan begin:
# Sokker: Afrigter Hugo Broos beoog om Bafana Bafana se diepte op die proef te stel in vanaand se wedstryd teen Panama op die Moses Mabhida-stadion in Durban. Bongokuhle Hlongwane en Mbekezeli Mbokazi sit die wedstryd uit weens reis-uitputting. Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, het by die span gekuier en die gees in die Suid-Afrikaanse kamp is goed. Die wedstryd word vanaand om 7-uur regstreeks op SABC 3 en SuperSport uitgesaai. Die vriendskaplike reeks van twee wedstryde teen die Sentraal-Amerikaanse span dien as belangrike voorbereiding vir die Wêreldbeker-toernooi in Junie. Die volgende wedstryd vind Dinsdag in Kaapstad plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-588-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-440-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 103-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….