Nuus 17:00
BULLETIN 25 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê korrupsie binne die SAPD sal nie geduld word nie
# Die DA vra vir ‘n 50-persent verlaging in die brandstofheffing om huishoudings teen prysskokke te beskerm
# En, AfriForum beweer Fikile Mbalula se optrede benadeel steeds die regering
# Die regering verwelkom die inhegtenisneming van twaalf SAPD-lede en ‘n maatskappydirekteur oor die onreëlmatige Medicare 24-tender. Die adjunk-regeringswoordvoerder William Baloyi sê die inhegtenisnemings stuur ‘n sterk boodskap dat niemand bo die wet verhewe is nie. Die regering prys die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie oor sy beslissende optrede, die versterking van aanspreeklikheid, etiese leierskap en deursigtigheid. Hy sê dit is noodsaaklik om toesig te versterk en gevolge af te dwing om openbare vertroue in wetstoepassingsinstansies te handhaaf:
# Die DA sê ‘n dringende verlaging van 50-persent in brandstofheffings word benodig om Suid-Afrikaners teen skerp brandstofprysstygings te beskerm. Die party waarsku die dreigende petrol- en dieselprysstygings sal vervoerkoste verhoog, voedselpryse opjaag en inflasie vererger, wat lae-inkomste huishoudings die hardste sal tref. Mark Burke van die DA sê ‘n heffingsvermindering kan pryse met meer as drie rand per liter verlaag:
# AfriForum se woordvoerder, Ernst van Zyl, het ‘n striemende aanval op die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula gemaak en beskuldig hom van swak leierskap en skade aan Suid-Afrika se internasionale betrekkinge. Van Zyl het verwys na toenemende misdaad tydens Mbalula se ampstermyn as die minister van Polisie, asook swakker spoorwegprestasie toe hy die minister van Vervoer was. Hy beweer Mbalula se optrede benadeel die regering en openbare vertroue voortdurend en bepleit beter aanspreeklikheid in leierskap:
# Die Nedlac-arbeidskool besin op sy laaste dag oor die belangrikste ekonomiese en arbeidsuitdagings waarmee Suid-Afrika te kampe het. Arbeidsfederasies, insluitend COSATU en SAFTU, is in gesprek oor werkloosheid, stygende lewenskoste en kollektiewe bedinging. Sprekers het kommer uitgespreek oor afleggings, energiekoste en infrastruktuurbeperkings. Die afgevaardigdes het saamgestem dat die uitdagings ‘n verenigde reaksie vereis om te verseker dat groei inklusief is.
# Swem: Cameron McEvoy sê hy kan nog “vinniger word” na hy een van swem se oudste wêreldrekords oortref het. Die Australiër sê egter dit is “kranksinnig” dat hy geen finansiële beloning vir sy prestasies ontvang het nie. McEvoy, die Olimpiese en wêreldkampioen in die 50 meter-vryslag, het verlede Vrydag by die China Ope in Shenzhen ‘n tyd van 20,88-sekondes aangeteken en sodoende die wêreldrekord in die 50-meter-vryslag vir mans, wat 17 jaar gelede deur Cesar Cielo opgestel is, met 0,03-sekondes verbeter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-612-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-551-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….