Nuus 17:00
BULLETIN 20 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fannie Nkosi ontken bewerings by die Madlanga-kommissie dat Kholofelo Morodi tenders beïnvloed het
# Die Johannesburg Metropolisie skors ‘n beampte te midde van ‘n ondersoek na ‘n voorval waarby Katiso “KT” Molefe betrokke was
# En krieket: Nieu-Seeland se vroue behaal ‘n oorwinning van ses paaltjies oor Suid-Afrika in die derde T20-toets
# Fannie Nkosi van die SAPD eenheid vir georganiseerde misdaad in Gauteng, het aan die Madlanga-kommissie gesê die geskorste Tshwane-burgemeesterskomiteelid, Kholofelo Morodi, het dokumente met hom gedeel bloot om te help, nie om uitkomste te beïnvloed nie. Nkosi het bewerings deur kommissaris Sesi Baloyi ontken dat hy kontakte gebruik het om werwings- of tenderbesluite te beïnvloed. Baloyi het gemeen die kommunikasie kan beïnvloeding of verberging impliseer, maar Nkosi het volgehou sy betrokkenheid was beperk tot die deel van inligting:
# Die Johannesburg Metro-polisiedepartement gaan aanklagte indien teen ‘n beampte, Johannes Makgatle, vir die misbruik van staatshulpbronne vir die beweerde misdaadbaas Katiso “KT” Molefe. Volgens ‘n interne ondersoek het Makgatle voertuigbeleid oortree nadat hy met ‘n departementele motor na Molefe se huis gery het terwyl hy siek was. Hy het na bewering ondersoekbeamptes ontwrig, nie die voorvalboek voltooi nie, en ook nie magtiging van sy toesighouers verkry nie. JMPD-woordvoerder Xolani Fihla sê Makgatle is geskors hangende formele aanklagte:
# Die Vereniging van Staatsamptenare verwelkom die inhegtenisneming van ‘n oortreder wat op 5 Februarie uit die Sevontein-korrektiewe sentrum in KwaZulu-Natal ontsnap het. Hy is op 17 Maart in Gauteng gevang en het tronkstraf uitgedien vir ernstige geweldsmisdade. Claude Naicker van die vakbond het die Nasionale Kommissaris se opspoor-en-naspeur-span geprys, maar sê die ontsnapping beklemtoon kritieke sekuriteitsgapings. Hy doen ‘n beroep op die departement om protokolle te versterk en toekomstige voorvalle te voorkom:
# ‘n Brand het vroeër vandag in ‘n motoronderdelefabriek in die Suid-Koreaanse stad Daejeon ontstaan en 55 mense beseer, waarvan 24 ernstig. Veertien word vermis, met verdere sterftes wat verwag word. Telefoondata het aangedui hulle is naby die plek in die fabriek waar die brand begin het, maar amptenare sê soekpogings is belemmer nadat die gebou gedeeltelik ingestort het. Die Suid-Koreaanse regering het ‘n sentrale rampbestuurstelsel vir die ongeluk geaktiveer, nadat president Lee Jae Myung die mobilisering van alle beskikbare hulpbronne gelas het om die brand te bestry en lewens te red.
# Krieket: Sophie Devine het Nieu-Seeland se vroue Vrydag tot ‘n oorwinning van ses paaltjies oor Suid-Afrika in die derde T20-toets op Eden Park in Auckland gelei. Die Witvarings het die teiken van 150 in 18 boulbeurte en vier balle bereik, wat aan hulle ‘n 2-1 voorsprong in die reeks van vyf wedstryde besorg. Die Suid-Afrikaanse kaptein, Laura Wolvaardt, het toegegee hulle het nie goed gekolf nie, maar het Kayla Reneke geprys vir haar onoorwonne 34 van 20 balle om die totaal na ‘n redelike 149 vir sewe paaltjies te neem. Die volgende wedstryd is Sondag in Hamilton.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-411-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-666-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 104-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….