Nuus 17:00
BULLETIN 17 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Giwusa eis staatsoorname van die oliebedryf namate pryse styg
# Die UDM vra die regering om te sorg maatskaplike werkers word behoorlik ondersteun
# En, ‘n Amerikaanse oorlogskip met vlootsoldate is oppad na die Midde-Ooste en nou naby Singapoer
# Die vakbond Giwusa waarsku stygende brandstofpryse sal werkers en armes benadeel wat hoër vervoer-, voedsel- en goederepryse kan verwag. Pryse sal na verwagting volgende maand dramaties styg weens die oorlog in die Midde-Ooste, die swak rand en olie-ondernemings wat voordeel wil trek. Giwusa eis breër hervormings in die energiesektor. Woordvoerder Mametlwe Sebei vra die regering om beplande verhogings in brandstofheffings op te skort en beter prysbeheer in te stel:
# Nasionale polisie-kommissaris, Fannie Masemola het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê die oordrag van 121 dossiere van die taakspan vir politieke moorde na die polisie-hoofkantoor in Pretoria was sonder sy magtiging en het kommer oor ongehoorsaamheid laat ontstaan. Hy sê hy het eers van die besluit gehoor toe die waarnemende adjunk- nasionale kommissaris vir Misdaadopsporing, Hilda Senthumule, hom ingelig het. Masemola sê die opdragte was ‘n potensiële inmenging met voortgesette ondersoeke:
# Die UDM sluit aan by die wêreldgemeenskap vir die herdenking van Wêreld-maatskaplike Werker-dag. Die UDM se waarnemende sekretaris-generaal, Zandile Phiri, vra die regering om te verseker dat maatskaplike werkers behoorlik ondersteun word, voldoende hulpbronne kry en beskerm word in die noodsaaklike werk wat hulle verrig. Sy sê belegging in maatskaplike ontwikkeling en gemeenskaps-ondersteuningstelsels is noodsaaklik:
# ‘n Amerikaanse vlootoorlogskip wat vermoedelik duisende lede van die vloot na die Midde-Ooste vervoer, nader die Seestraat van Malakka naby Singapoer. Die amfibiese aanvalskip, die USS Tripoli, vervoer waarskynlik soldate van die 31ste Vloot Ekspedisie-eenheid in Okinawa, Japan. Die reaksiemag bestaan uit twee-duisend-200 personeellede. ‘n Eenheid bestaan uit ‘n bevelseenheid, voetsoldate, lugbemanning en logistieke lede. Die Tripoli dra F-35 Stealth-vegvliegtuie en MV-22 Osprey-vliegtuie asook landingsvaartuie om soldate aan land te bring.
# Tennis: Die Brit Emma Raducanu het weens siekte aan die Miami Ope onttrek. Die 23-jarige voormalige Amerikaanse Ope-kampioen het in die tweede ronde van die toernooi wat vandag begin, ‘n los lootjie ontvang. Raducanu het in Januarie by die United Cup na mededingende tennis teruggekeer nadat sy weens beserings vir twee en ʼn half maande buite aksie was. Nog ʼn Brit, Sonay Kartal, en die Australiër, Maya Joint, het weens rugbeserings ook aan die Miami Ope onttrek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-792-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-12-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 99-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….