Nuus 17:00
BULLETIN 16 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Polisie-sersant Fannie Nkosi ontken hy is ‘n geheime agent soos “007”
# Minister de Lille vra openbare kommentaar oor konsepkode vir korttermynverhurings
# En, Inkomstediens verduidelik reëls vir belastingverslagdoening oor kripto-bates
# Die polisie-sersant Fannie Nkosi het ontken hy is ‘n geheime agent of sluipmoordenaar, al het kollegas hom die bynaam 007 gegee. Nkosi het voor die Madlanga-kommissie verduidelik die bynaam spruit uit sy houding van geen verdraagsaamheid teenoor misdaad, en nie James Bond-rolprente nie. Nkosi sê hy identifiseer nie met sulke byname nie, ook nie met Knight Rider nie, en verduidelik hy het nie ‘n lisensie om moord te pleeg nie:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het die publiek en toerisme-belanghebbendes genooi om kommentaar te lewer oor die Konsepkode vir Goeie Praktyk vir korttermynverhurings. Dit volg op die kabinet se goedkeuring van die 2024-witskrif oor die Ontwikkeling en Bevordering van Toerisme in Suid-Afrika. Woordvoerder Aldrin Sampear sê die konsep is daarop gemik om gedrag in die groeiende huisdeelsektor te lei deur middel van deursigtigheid en inklusiewe beleidmaking. Kommentaar sluit op 12 Mei 2026:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het verduidelik individuele belastingbetalers moet steeds kripto-batetransaksies deur hul normale inkomstebelastingopgawes verklaar. Dit volg op die bekendstelling van die Kripto-bateverslagdoeningsraamwerk op 1 Maart. Die inkomstediens sê alhoewel kripto-diensverskaffers sekere transaksies aan owerhede sal rapporteer, bly individue verantwoordelik vir die verklaring van alle belasbare kripto-inkomste. Die diens waarsku versuim om kriptoverdienste te verklaar, kan tot boetes en rente lei.
# Duitsland het reageer op die Amerikaanse president, Donald Trump, se oproepe om te help om skeepvaartroetes in die Seestraat van Hormoes oop te hou, deur te sê dis nie NAVO se oorlog nie. Die opmerking volg nadat Trump ‘n swak-bedekte dreigement teenoor die alliansie gemaak het. Kanselier Friedrich Merz het onlangs sy standpunt versterk met die oorlog teen Iran wat steeds geen einde in sig het nie. Berlyn het ook herhaal hy sal nie aan enige bedrywighede in die strategies belangrike Straat van Hormoes deelneem nie.
# Rugby: SA Rugby en die CANAL-Plus (ploes)-groep het hul voortgesette vennootskap met SuperSport herbevestig. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê SuperSport is al dekades lank deel van rugby en bring al die aksie na ondersteuners, insluitend Wêreldbeker-toernooie, en hulle is opgewonde om hierdie reis voort te sit. CANAL-Plus se direkteur vir sportinhoud, Rendani Ramovha, sê rugby speel ‘n belangrike rol in die sportpakket wat hulle aan Suid-Afrikaanse gehore lewer, en die vennootskap met SA Rugby is noodsaaklik om die beste in plaaslike en internasionale rugby te lewer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-892-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-23-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 98-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….