Nuus 17:00
BULLETIN 13 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Reuse-brandstofprysskok wag op Suid-Afrikaanse motoriste in April
# Richard Shibiri beweer ‘n informant het inligting oor Getuie A se bevordering oorgedra
# En, BOSA sê die Gautengse begroting het geen duidelike werkskeppingsplan nie
# Motoriste kan volgende maand skerp brandstofprysstygings verwag weens stygende internasionale oliepryse, ‘n swakker rand en nuwe brandstofbelasting-aanpassings. Huidige data van die Sentrale Energiefonds dui aan die petrolprys kan met byna vier-rand per liter styg, terwyl diesel met tussen ses-rand-63 en ses-rand-75 per liter kan styg. Brent-ruoliepryse het die afgelope weke aansienlik gestyg te midde van wêreldwye spanning. Van volgende maand sal bykomende brandstofheffings 21-sent per liter by pomppryse voeg.
# Die geskorste hoof van die SAPD se Georganiseerde Misdaad-eenheid, Richard Shibiri, het aan die Madlanga-kommissie gesê ‘n informant het hom meegedeel Getuie A is bevorder nadat hy teen top-SAPD-amptenare getuig het. Shibiri sê die SAPD het ‘n duidelike beleid oor bevorderings, en hy sê nie Getuie A verdien nie bevordering nie, maar persepsies oor bevorderings kan agterdog skep:
# Build One South Africa sê die Gautengse regering vertrou op hoop eerder as ‘n besliste strategie om ekonomiese groei aan te vuur en werk te skep. Die party het die provinsiale begroting gekritiseer, met 1,8-miljard-rand wat aan ekonomiese ontwikkeling toegeken is teenoor groter bedrae vir behuising en maatskaplike dienste. Woordvoerder Ayanda Allie waarsku sonder daadwerklike planne vir infrastruktuur, belegging en sakegroei loop die provinsie die risiko om te stagneer:
# Die liggame van 84 Iranse matrose wat verlede week in ‘n torpedo-aanval deur ‘n Amerikaanse duikboot in die Indiese Oseaan dood is, word vandag huis toe gevlieg. Hulle was onder 130 mense wat vermoedelik aan boord van die Iranse oorlogskip, die Iris Dena, was toe dit sowat 40 kilometer van Sri Lanka se suidkus gesink het. Die skip was onderweg terug van ‘n militêre oefening in Indië. Dit het in internasionale water gesink tydens die huidige Amerikaans-Israelse oorlog met Iran en het die konflik dramaties uitgebrei.
# Rugby: Die laaste ronde van die Sesnasies vind môre plaas op Super Saterdag, met Frankryk, Skotland en Ierland wat almal nog die titel kan beklink. Die verdedigende kampioen, Frankryk, wat boaan die punteleer is, speel in Parys teen Engeland in die laaste wedstryd van die kompetisie. Vroeër is die derde-geplaasde Ierland in Dublin gasheer vir die tweede-geplaasde Skotland. Die wenspan het ‘n kans om die kroon te beklink. Wallis speel in Cardiff teen Italië, wat tans vierde is, gevolg deur Engeland, en Wallis, wat soos gewoonlik laaste is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-755-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-113-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 96-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….