Nuus 17:00
BULLETIN 9 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Mkhwanazi se getuienis by die Madlanga-kommissie uitgestel
# Die dinkskrum, Lex Libertas sal 3 000 kruise op Washington se National Mall vertoon
# En, CATA skort taxibedrywighede op in Nyanga te midde van voortdurende geweld
# Die Madlanga-kommissie het die tweede getuienis lewering van die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, tot 23 Maart uitgestel. Sy nuwe regsverteenwoordiger, Nkosana Khumalo, het die kommissie meegedeel hy benodig tyd om dokumente te hersien en voor te berei aangesien hy Mkhwanazi eers gister ontmoet het. Khumalo het ook gesê Mkhwanazi is geskeduleer vir ‘n oogoperasie en benodig twee weke se hersteltyd voor hy terugkeer om verdere getuienis te lewer:
# Die belangegroep, Lex Libertas gaan ’n openbare waakbyeenkoms op die National Mall in Washington DC hou, waar drie-duisend wit kruise vertoon gaan word om slagoffers van plaasaanvalle in Suid-Afrika te herdenk. Die groep probeer om daardeur die internasionale aandag op geweld en rassediskriminasie in Suid-Afrika te vestig. Ernst Roets van die groep doen ‘n beroep op die VSA om ‘n spesiale gesant aan te stel om met kulturele minderhede in Suid-Afrika te skakel en vreedsame selfbestuur te bevorder:
# Die Wes-Kaapse taxi-vereniging CATA het vandag taxibedrywighede in Nyanga, Kaapstad, opgeskort na voortdurende geweld in die gebied. Dit volg nadat nege minibustaxi’s verlede week op die Nyanga-taxistaanplek aan die brand gesteek is. Bestuurders en eienaars het na die plaaslike polisiestasie opgeruk om vordering te eis met onopgeloste skietvoorvalle en verhoogde sekerheidsmaatreëls en die aanbring van toesigkameras te eis. CATA sê die geweld hou verband met betwiste taxiroetes en misdaadoptredes wat die bedryf teiken.
# Krieket: Oos-Londen in die Oos-Kaap behoort gereed te wees om volgende jaar eendag-Wêreldbekerwedstryde aan te bied, maar Kimberley in die Noord-Kaap is nog nie op standaard nie. Albei unies is tans onder administrasie. Grens se administrateur, Greg Fredericks, sê Desember se eendagwedstryd tussen die Proteas en Bangladesj behoort ’n goeie aanduiding te gee oor Buffalo-park se gereedheid. Die Noord-Kaap se administrateur, Jesse Chellan, moet nog met die provinsiale regering beraadslaag oor die standaard van die Kimberley-ovaal. Suid-Afrika is mede-aanbieder saam met Namibië en Zimbabwe.
Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het ‘n bakleiery tydens ‘n vergadering van die Nasionale Uitvoerende Komitee van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging veroordeel. Die geveg het gevolg op ‘n mosie om vier NUK-lede, insluitend Gladwin White, Monde Montshiwa, Bhuda Mathate en Lebogang Riet, te skors vir die beweerde oortreding van kommunikasiebeleid voor die leierskapsverkiesings. McKenzie sê die skandelike vertoon misken die harde werk om korporatiewe borgskappe vir SAFA te bekom. Hy het voornemens bevestig om die Konfederasie van Afrika-sokker en FIFA in te lig oor optrede vir ‘n ondersoek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-279-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-90-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 99-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….