Nuus 17:00
BULLETIN 8 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement verwelkom die Hooggeregshof-besluit oor EFF-lede se skorsing
# ‘n Politikus bedank in Skotland oor ‘n reuse data-rekening
# En Krieket: Dit is sink of swem vir die Proteas in Nieu-Seeland
# Die Parlement verwelkom die uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof teen ses EFF-parlementslede se aansoek om hul tydelike skorsing uit die Parlement om te keer. Dit het verband gehou met verlede jaar se staatsrede waar die EFF-leier, Julius Malema, die adjunkpresident, Floyd Shivambu en nog vier EFF-lede die speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se opdrag veronagsaam het om die saal te ontruim nadat hulle die verhoog bestorm het. Die Parlement sê die aansoek was ‘n misbruik van regsprosesse. Die Parlement het sy verbintenis herbevestig tot die handhawing van orde tydens belangrike byeenkomste.
Intussen doen die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om regeringsdoeltreffendheid voorop te stel in vanaand se staatsrede in die Kaapstadse stadsaal. Die kamer se uitvoerende hoof, Alan Mukoki, beklemtoon die noodsaaklikheid dat die president sleutelkwessies moet aanpak. Hy noem dit as die verbetering van die swak ekonomie, die uitwissing van beurtkrag, die vermindering van werkloosheid en die verbetering van nasionale hawens vir gladder invoer- en uitvoerprosesse:
# Metrorail in die Wes-Kaap sê treindienste is gedeeltelik herstel ná erge ontwrigtings wat veroorsaak is deur opsetlike beskadiging tussen die stasies Bellville en Tygerberg. Operasionele lyne sluit nou die Kaapse Vlakte in, Kaapstad na Heathfield via Athlone en die Suidelike lyn, en Kaapstad na Vishoek via Wynberg. Pogings is aan die gang om die Sentrale lyn te herstel. Die woordvoerder, Zinobulali Mihi, sê tegnici werk reeds die hele dag om die lyne te herstel na die gebiede wat nog geraak word:
# Skotland se minister van Gesondheid, Michael Matheson, het bedank oor ‘n skandaal rakende sy iPad-rekening van byna 260-duisend-rand. Hy het die toestel laat in 2022 op ‘n gesinsvakansie na Marokko saamgeneem en die groot bedrag aan oorgrens-aanlyn kostes opgedok. Matheson het die geld terugbetaal nadat hy aanvanklik beweer het hy het kiesafdelingswerk gedoen tydens die reis, terwyl dit later duidelik geword het sy seuns het die iPad gebruik om sokker te kyk. Die bevindings van ’n ondersoek waarmee in November verlede jaar begin is, is nog nie bekend nie.
# Krieket: ‘n Onervare Proteas-toetsgroep sal vinnig moet leer uit hul nederlaag in die openingswedstryd teen Nieu-Seeland. Die Swartpette het die Suid-Afrikaanse span met ses nuwelinge uitoorlê en met 281 lopies geklop. Die tweede en laaste toets begin Dinsdag in Hamilton. Die afrigter, Shukri Conrad, sê die Proteas sal vinnig moet aanpas:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-819-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-23-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….