Nuus 17:00
BULLETIN 3 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa loof Nelson Mandela en Oliver Tambo se standbeelde as ‘n geskiedkundige eerbewys
# Die ministerie van Polisie verleng OPOD se tydelike leierskap
# En, die Wes-Kaapse polisie-kommissaris vra vir strenger maatreëls teen geweldsmisdaad en onwettige vuurwapens
# President Cyril Ramaphosa beskryf die onthulling van standbeelde van oudpresident Nelson Mandela en die anti-apartheidsaktivis OR Tambo in eThekwini, KwaZulu-Natal, as ‘n geskiedkundige geleentheid. Hy sê dit bewaar Suid-Afrika se erfenis, eer hulle bydraes tot vryheid en dien as openbare herinnering aan die land se reis. Ramaphosa beklemtoon ook die lesse aan toekomstige geslagte oor die stryd en beginsels wat hierdie leiers verteenwoordig het:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het die termyn van die waarnemende hoof van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Hlengani Bila, verleng. Woordvoerder Kamogelo Mogotsi sê die besluit, gesteun deur die parlementêre komitee op die Polisie, is daarop gemik om bestendigheid en kontinuīteit by die polisie-waghond te verseker, terwyl die proses voortgaan om ‘n permanente uitvoerende direkteur aan te stel:
# Die Wes-Kaapse polisie-kommissaris, Thembisile Patekile, sê geweldsmisdaad in die provinsie word deur onwettige vuurwapens en jeug-betrokkenheid aangevuur. Hy het die jongste misdaadsyfers bekend gemaak en sê moordsake het effens afgeneem tot een-duisend-157 tussen Oktober en Desember, maar poging tot moord en seksuele oortredings het toegeneem, met verkragtings wat tot een-duisend-370 gestyg het. Patekile sê Kaapstad bly die middelpunt van die moorde, met 80-persent wat daar voorkom, terwyl afpersing wat met beskerming-sindikate verband hou, in woongebiede voortduur.
# Amerika het twee ambassades in die Midde-Ooste gesluit en sy konsulêre teenwoordigheid in verskeie ander lande verminder terwyl aanvalle voortduur. Die ambassade in Saoedi-Arabië is vandag gesluit nadat dit deur vermeende Iranse hommeltuie getref is, terwyl die ambassade in Koeweit ook gesluit is. Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake het Amerikaners vroeër gemaan om dadelik 14 lande in die streek weens ernstige veiligheidsgevare te verlaat. Nie-noodsaaklike Amerikaanse regeringswerkers en hulle gesinne is ook gevra om Jordanië, Bahrein, Katar, Irak en die Verenigde Arabiese Emirate te verlaat.
# Sokker: Die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Danny Jordaan, sê hul praat met Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, oor sy toekoms. Broos se kontrak eindig in Junie en hy beplan om na vanjaar se Wêreldbekertoernooi uit te tree. Jordaan sê SAFA hoop om hom te behou om bestendigheid te handhaaf, soortgelyk aan Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, wat reeds ‘n dekade lank die span afrig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-122-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-174-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 82-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….