Nuus 17:00
BULLETIN 27 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Saai vra vir oorgrens-optrede om bek-en-klouseer te beperk
# Linda Gxasheka ontken sy ken Vusimusi “Cat” Matlala se vrou en is ontevrede oor tender aan maatskappy
# En, ‘n opname bevind meeste Amerikaners vertrou nie Donald Trump se bewering van ‘n florende ekonomie nie
# Die landbou-organisasie Saai sê onbeheerde veebeweging oor grense en swak plaaslike strukture in Suid-Afrika vererger die verspreiding van bek-en-klouseer. Hy waarsku die huidige inentingspogings kan te misluk sonder sterker koördinering, naspeurbaarheid en afdwinging. Theo de Jager van die organisasie sê die eerste bevestigde bek-en-klouseer-uitbreking in Lesotho dui aan ‘n streeksbenadering is nou noodsaaklik:
# Die geskorste hoof van Menslike Hulpbronne in Ekurhuleni, Linda Gxasheka, sê sy ken nie sakeman Vusimusi “Cat” Matlala se vrou Tsakani Baloyi Matlala nie, en het haar nooit ontmoet nie. Sy het bt die Madlanga Kommissie van Ondersoek kommer uitgespreek oor ‘n betaling van 3,7-miljoen-rand in 2023 aan Baloyi se maatskappy, Bonav Vista Learning Academy, vir vaardigheidsontwikkeling en opleidingsprogramme. Gxasheka sê die tender moes gediskwalifiseer gewees het omdat sy nie tevrede was met die maatskappy se werk nie, maar betalings het voortgegaan ten spyte van haar besware:
# Die suikerreus Tongaat Hulett se likwidasieverhoor in die Hooggeregshof in Durban is weereens vertraag. Die voorlopige likwidasie-aansoek is deur Tongaat Hulett Beperk se sakereddingspraktisyns ingedien. Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie het gister sy kennisgewing van voorneme ingedien, om die likwidasie-aansoek teen te staan. Die saak is uitgestel om die regterpresident van KwaZulu-Natal, Thoba Poyo-Dlwati, tyd te gee om ‘n formele verhoordatum te bepaal. Dit volg na meningsverskille tussen aansoekers en respondente oor geskikte datums. Regspanne het tydens die virtuele sitting ook gebots oor uitstaande dokumente.
# Die meeste Amerikaners glo nie president Donald Trump se bewerings dat die ekonomie floreer en hy inflasie bekamp het nie. Die jongste opname van Reuters en Ipsos toon dat 68-persent van mense nie saamstem dat die ekonomie floreer nie, terwyl slegs 16-persent saamstem dat daar skaars enige inflasie is. Republikeine was skerp verdeeld oor hoe goed die ekonomie vaar, wat gesien word as ‘n waarskuwingsteken vir die party beskou voor November se mediumtermyn-verkiesing. Die peiling het ‘n foutgrens van twee persentasiepunte en het vier-duisend-638 Amerikaanse volwassenes landwyd ondervra.
# Rugby: Die Engelse skrumskakel Alex Mitchell se Sesnasies-kompetisie is verby nadat hy ‘n beenbesering opgedoen het in verlede naweek se nederlaag teen Ierland op Twickenham. Hy sal na verwagting ‘n hele paar weke uit wees, met Jack van Poortvliet wat beskou word as gunsteling om die nommer nege-trui te dra. Engeland speel volgende naweek in Rome teen Italië en eindig die kompetisie ‘n week later in Parys teen die verdedigende kampioen, Frankryk. Frankryk is tans bo-aan die punteleer, gevolg deur Skotland, Ierland, Engeland, Italië en Wallis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-72-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-196-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 72-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….